Monday 12 August 2013

'n Christelike huis


2 Timoteus 1 : 5  Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

Baie van ons is geseënd omdat ons in ‘n Christelike huis grootgeword het.  Ek onthou hoe my ouma by ons kom kuier het toe ek klein was.  Die lekkerste van ouma se kuier was dat ek en sy my  kamer gedeel het met sulke kuiers. 

Sy was al te koud om te kniel, maar saans as sy die lig afgesit het, het sy regop bly sit op die bed – bene lank voor haar uitgestrek en haar hande saamgevou, dan het sy saggies gebid.  Haar gebede het my absoluut gefassineeer, want sy’t met God gepraat asof sy Hom geken het.  Nie dat dit nodig was nie, maar Ouma se gereelde gesprekke met God, het verseker dat Hy alles van almal van ons ook geweet het.  Dis omdat sy met grafiese besonderhede oor elkeen bid - alles word met Hom gedeel.  Sy’t seker gedink ek slaap of dalk was sy so ingestel op God dat sy nie besef het ek kan haar hoor nie. Daarna sou ouma yskoue water drink uit haar silwer waterbeker en oomblikke later in ‘n diep slaap verval. Sorge sou haar nie uit die slaap hou nie, want alles was nou in God se hande.

Van ‘n baie jong ouderdom het my ma vir my uit die Kinderbybel voorgelees en die karakters het vir my lewend geword.  Die prentjies daarby het wondere gedoen vir ‘n ryk kinderverbeelding soos die reuse tros druiwe waarmee Josua hulle uit Kanaan teruggekom het (Numeri 13). 

My pa het weer gesorg dat almal Sondag na Sondag gestewel en gespoor kerk toe is en Sondagskool bygewoon het. Vandag nog volg ek pa se voorbeeld:  "Ek en my huis, ons sal die Here dien."


Elkeen van ons het die geleentheid om ons geloof oor geslagte heen te laat voortleef.  Die vraag is net of ons die geleenthede gebruik.  Stel ons ‘n voorbeeld vir ons kinders wat hul motiveer om God te dien?  Watter tradisies skep ons?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...