Sunday 25 August 2013

Vreugde

Spreuke 12 : 25 Bekommernis druk 'n mens neer; 'n vriendelike woord vrolik hom op.

Vanmiddag op pad huis toe, het ek gou by die supermark gestop vir ‘n paar items.  Teen Donderdag het die week sy tol op meeste van ons geeis, so daar was nie veel tekens van vreugde op die mense om my se gesigte te bespeur nie. 

Terwyl ek in een van die gangetjies stap, hoor ek iemand sing en toe ek omkyk kom ‘n Downsindroom meisie (ongeveer 20 jr oud) verbygehuppel met haar trollie.  Haar pa stap rustig agter haar aan.  Hulle speel ‘n speletjie en sy skaterlag omdat hy haar nie kan vang nie.  By die kassiere gekom, is pa en dogter reeds daar.  Die lagbui wat kort-kort uit die engelkind borrel, is ‘n lag wat vaag bekend is, een met soveel ongekende, opregte uitbundige vreugde wat uit haar diepste binneste kom.  Dis asof die hele winkel tot stilstand kom.  Almal staar in verbasing na die toneeltjie en ek glo menige van my mede inkopiegangers het haar, haar sorgelose lag beny op daardie oomblik.  Die lag was so aansteeklik dat almal dit staan en indrink het met ‘n glimlag op hul gesigte.


Ten spyte daarvan dat vreugde een van die vrugte van die Gees is (Gal 5 : 22), het ons verleer om te lag.  Kommer het ons vreugde gesteel.  ‘n Downsindroom meisie het vandag reggekry wat baie sielkundiges oor droom, om ‘n groepie mense vir ‘n paar minute weer ware vreugde te laat ervaar en van enigiets anders te vergeet.  Dis die uitwerking wat jou vreugde op ander kan hê.  Maak iemand se dag vandag.  Lag uitbundig.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...