Monday 5 August 2013

Wipwaentjie-rit van die lewe

Markus 4 : 39  Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom
Ons almal ken tye wanneer die lewe jou woes heen en weer skommel sodat jy later in ‘n hoekie wil gaan sit en jou bloukolle vertroetel.  Die lewe is nou maar een maal nie ‘n piekniek nie en om die minste te sê, uiters onvoorspelbaar.  Nes jy dink nou’t jy gearriveer, kry jy ‘n verassing waarsonder jy goed sou kon klaarkom.  Jou kind raak by dwelms betrokke, jou man/vrou is nie meer tevrede met jul jarelange huwelik nie, jou verlowing / troue word afgestel, daar vind personeelvermindering plaas, jy word met ‘n terminale siekte gediagnoseer.
Ons almal hanteer trauma op verskillende maniere en die geleerdes praat van ‘n 'change curve' waardeur jy moet gaan.  Daar deur-gaan, moet ons.  Wat maak jy as hierdie, of enige ander emmer koue water jou tref?    Party van ons kry woedeaanvalle, ander onttrek, party huil.  Soos ons deur die krisis leef, ervaar ons verskillende emosies. 
Jesus was op ‘n dag saam met die dissipels in ‘n boot toe hulle deur ‘n storm getref word.  Die dissipels was rasend bekommerd terwyl Jesus geslaap het.  Toe die dissipels hom wakkermaak, het hy net gepraat:  “Hou op!  Bedaar!” en onmiddellik het die wind gaan lê.

Op die wipwaentjie-rit van die lewe, gaan ons angsbevange oomblikke beleef, bekommerd wees en alleen voel, maar dan onthou ons dat die Bybel sê dieselfde Gees wat Jesus uit die dood laaat opstaan het in ons is.  Dit beteken dat ons oor dieselfde wonderwerkende krag beskik.  Jy het die reg om vrede oor jou huis, jou gedagtes en jou familie uit te spreek.  Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou die krag gee.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...