Monday 2 September 2013

Help Mekaar

Jesaja 41 : 6  “hulle help mekaar en praat mekaar moed in.”

Een van my gunsteling tydverdrywe is om mense dop te hou, spesifiek hul interaksie met mekaar.

Terwyl ek vandag in ‘n ry staan en wag om aan boord van ‘n vlug na Johannesburg te stap, staan daar ‘n gesin voor my in die ry – pa, ma en ‘n seun van +- 13 jaar.  Beide ouers is op hul selfoon besig terwyl die seun met die selfone kompeteer om aandag.  Kort-kort mik hy van die een na die ander se selfoon om te sien waarmeer hul besig is.  Die pa is besig om ‘n speletjie op die selfoon te speel en alhoewel die seun ook wou speel, het die pa net gelag en gesê hy moet wag.  Selfs terwyl ons vorentoe beweeg, het hul nie een oomblik weggekyk van hul selfone nie.  Op ‘n stadium moes die seun sy pa aangespreek:  “Stop playing,” en die drasak optel, want beide ouers was te besig om daaraan aandag te gee.  Hulle is die vliegtuig in sonder om hul oë vir een oomblik van die skerms af te haal.  Eintlik kon hul net sowel die kind by die huis gelos het, eerder as om hom op ‘n duur oorsese vakansie te bring.  Dit kon ek aflui van hul internasionale paspoorte en die feit dat hul aan boord ‘n vlug gegaan het wat via Johannesburg na Frankfort op pad was.

Selfone het ongetwyfeld hul voordele, maar dit is hartverskeurend wat dit aan ons doen.  Die selfoon het vir baie hul beste vriend geword, die een wat al hul tyd en aandag kry.


Ons is almal skuldig op die een of ander vlak, want ons laat toe dat ons op ‘n afstand beheer word d.m.v. epos, smsse, bbm’s, whats-up en wat nog alles.  Neem jouself vandag voor om nie ook ‘n slagoffer te word van selfoonverslawing nie.  Druk die rooi knoppie en maak Jesaja 41 : 6 ‘n werklikheid vir mekaar.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...