Thursday 14 November 2013

Bid vir hulle

Monkey Life is een van my gunsteling TV programme.  Dit gaan oor Monkey World Ape Rescue Centre, sowat 65 ha bewaringsgebied in Dorset, Engeland.  Dis in 1987 deur Jim & Alison Cronin gestig.  Jim is intussen oorlede, maar Alison sit die werk voort.  Hulle red primate van regoor die wêreld en hervestig hul in ‘n omgewing wat hul so natuurlik as moontlik vir die diere probeer maak.  Geen geld of moeite word ontsien nie. 

Van die diere is afkomstig uit laboratoriums waar hul vir wetenskaplike toetse gebruik is.  Sommige het nog nooit die buitelug gesien nie, wat nog te sê bome of gras.  Ander is as troeteldiere aangehou, tot die diere uit verveling en frustrasie aggressief begin raak en dan in hokke toegesluit is.  Sommige toon kompulsiewe gedragspatrone, soos om aanhoudend op en af te spring omdat dit al was wat hul in die hok kon doen.
 
Hoekom kyk ek na iets so hartseer?  Omdat dit my tot trane van blydskap dryf om te sien dat daar nog mense is wat uit hul pad gaan om op te maak vir wat hierdie diere deurgemaak het – en ek geniet die diere se manewales.  

Daar is 17 verskillende tipe primate en meer as 200 inwonertjies, van marmoset apies, tot ‘ugly monkeys, sjimpansjees, woolies, oerangoetangs...  Elkeen het ‘n naam en sy/haar eie persoonlikheid.  Wat my veral opval is die kundigheid van die werknemers van die park.  Ek verkyk my aan die vindingrykheid waarmee die personeel die diere versorg.   Hulle doen navorsing oor die diere se natuurlike habitat en veral voertyd kom die personeel se kreatiwiteit na vore.  Party van die spesies sal bv met hul vingertjies grawe vir gom in bome, so daar word gate in die hout geboor en stropies ingespuit sodat die apies dit kan uitvis.  Vir ander word weer wurmpies in verskillende vorms weggesteek.  Hulle maak interessante ‘treats bv joghurt en jellie wat gevries word en dan vir die diere gevoer word.  Sommige kry baddens jellie met stukke waatlemoen ens daarin.  Dit is absoluut fasinerend.

Daar is ‘n hospitaal, maar hulle opereer slegs as dit die enigste uitweg is.  Soms verloor hul van die diere.  In een episode vertel hul van ‘n aap wat in die park gebore is d.m.v. ‘n keisersnee.  Sy ma is oorlede by geboorte en sy pa het vreeslik getreur, maar uiteindelik het daar ‘n baie spesiale en hegte band tussen pa en seun ontstaan en oor die jare het die twee onafskeidbaar geword.  Eendag let die pa op dat iets fout is met sy aapseun en die personeel let op hoe hy alles probeer om hom op te beur en te laat eet, maar die outjie kan eenvoudig nie.  Uiteindelik het hulle hom geopereer.  ‘n Gewas het sy organe oorgroei en hulle kon dit nie verwyder nie.  Die personeel het saam besluit om hom die pyn te spaar en eerder uit te sit onder narkose.  Trane het vryelik gevloei in die teater.  Die ergste was om die pa te sien sit en wag dat sy aapseun moet terugkom.  Daardie oë… dit kon net sowel ‘n menspa gewees het.  Ek het nog nooit soveel smart in twee pikswart ogies gesien nie.  Dis asof jy kan sien hoe hy sit en dink… eers my vrou en nou my seun… Selfs sy liggaamshouding was een van gelatenheid.  Die pa is nou die enigste van sy soort en die dieretuin is besig om te kyk wat hulle vir hom kan doen.  Hulle is bang om hom in die bome los te laat waar hy en sy seun soveel gelukkige oomblikke deurgebring het omdat hulle bang is hy sal van sy kop af raak as hy nie sy seun kan vind nie, maar hulle glo dat sy enigste anker sy bekende omgewing is – sy aaphuis in die dieretuin.

Wat ‘n wonderlike kontras teenoor dieremishandeling.  Hierdie mense vergoed vir al die hartseer, pyn en onreg wat soveel andere regoor die wêreld onskuldige diere aandoen.

Dra hul asseblief in gebed op.  Genesis 24 : 26  Toe het die man gekniel en tot die Here gebid  En as jy enigsins kan gaan besoek hulle in Engeland.  Daar is ook ‘n oerangoetang van Suid-Afrika, Osjeen.  Haar eienares wou haar die geleentheid gee om weer tussen haar eie mense te wees en Monkey World het haar kom haal.

PS:  Die personeel het nou 'n gepaste wyfie vir Sam opgespoor.  Omdat hy al ouerig is, wou hul nie 'n jong maat vir hom kry nie.  Die dame is 18 jaar oud en ek kan nie wag om te sien hoe hy oor haar gaan voel nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...