Tuesday 19 November 2013

Sy troue liefde

Psalm 25 : 6 Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.

Een van die interessanthede omtrent primate is dat daar ‘n streng rangorde in ‘n trop heers.  In enige groep is daar ‘n alfa mannetjie wat die groep in toom sal hou en beskerm.  Wanneer die hokke oopgemaak word sodat hulle kan uitgaan, stap die alfa mannetjie eerste uit om die omgewing te verken en seker te maak dis veilig.  As jy egter onder op die ranglys is, het jy nie ‘n baie lekker lewe nie.  Jy kan slegs eet as almal klaar geëet het, en baie keer is daar dan net half geëete vrugte oor.  Jy moet veral uit die alfa mannetjie se pad bly, anders haal hy sy gramskap op jou uit.

Monkey World waarvan ek al vroeer vertel het, wend hierdie laer rangorde diere baie effektief aan.  As ‘n nuweling by die park arriveer, word die laer rangorde dier eerste by die nuweling toegelaat.  Omdat hulle altyd afgeknou word, is hul baie onderdanig en uitgehonger vir liefde en aanraking.  Daarom is dit die veiligste om hul by die nuwelinge toe te laat.  Hulle sal selde, indien ooit, ‘n nuweling aanval.  Sodra die vriendskap dan gevorm is, word die twee teruggesit by die groter trop en dan sal die laer rangorde outjie die nuweling beskerm, want nou’t hy ook ‘n beste maatjie.

Dit het my laat dink hoe ons ook sommige mense eenkant toe stoot omdat hul laer op ons rangorde lysie is.  Daardie mense het ook liefde en aandag nodig.  Om die waarheid te sê, daar is mense oral om en tussen ons wat uitgehonger vir liefdeis. Ons kan ‘n hand van vriendskap na hul uithou en vir hulle die lewe soveel aangenamer maak.  Elke mens het iets mooi en goed in hom, selfs diegene wat ons nie mee wil assosieer nie – gee hul net ‘n kans.


As God Sy liefde so getrou oor ons kan uitstort, kan ons dit verseker ook oor ons medemens uitstort.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...