Tuesday 18 March 2014

Die enigste Bybel

Johannes 13 : 15  Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.
Sy naam is Billy. Hy het woeste hare, dra ‘n T-hemp met gate in, denimbroek en geen skoene. Dit was letterlik sy hele klerekas vir die hele vier jaar op kollege.  Hy is briljant en baie slim. Hy het ‘n gelowige geword terwyl hy op kollege was.
In die straat oorkant die kollegekampus was die kerkgebou van ‘n baie netjiese en baie konserwatiewe gemeente. Hulle wou ‘n bediening begin vir die kollegestudente, maar het nie regtig geweet waar om te begin nie.
Een Sondagoggend daag Billy by die kerk op ― geklee in sy gewone T-hemp, denim, ongeskeer, sy hare wat wild staan en kaalvoet.
Die diens het reeds begin en Billy het in die paadjie afgestap opsoek na  sitplek om te sit, maar die kerk was stampvol en daar was nie ‘n enkele  sitplek beskikbaar nie. Van die gemeentelede het kriewelrig rondgeskuif en ander het ongemaklik onder mekaar gefluister.
Voor by die preekstoel besef Billie dat daar geen sitplek beskikbaar is nie, en  hy maak homself toe op die mat tuis.
Teen die tyd was die gemeentelede alreeds erg opgetrek oor die situasie en die atmosfeer so dik dat jy dit amper met ‘n mes kon sny.
Juis toe merk die dominee dat een van sy gewese ouderlinge van heel agter in die kerk op pad is na Billy toe. Die oubaas was reeds in sy tagtigs, met silwergrys hare en, soos altyd, netjies geklee in sy swart driestuk pak. Almal het hom geken as ‘n waardige, Godvresende man ― met sy kierie het hy statig en hoflik sy weg gebaan na die jongman daar voor die preekstoel. Die kerk was doodstil, behalwe vir die getik van die ouderling se kierie op die vloer. Alle oë  was vasgenael op die oubaas en die gemeentelede het skaars asemgehaal, want hulle het geweet die oubaas loop nie draaie as dit by reg en verkeerd kom nie.  Selfs die dominee het gespanne en in stilte gewag om te sien wat gaan gebeur.  Toe die oubaas uiteindelik die jongman bereik, het hy sy kierie laat val, en stadig en met groot moeite op die mat neergesak, Billie met ‘n kopknik gegroet en effe uitasem gefluister: “Nou sit jy darem nie alleen nie…”
Die gemeente se emosies het voelbaar opgewel en hier en daar het een ‘n traan afgevee.

Toe die predikant uiteindelik beheer oor sy eie emosies kry, het hy opgekyk en gesê:  “Wat ek vandag oor gaan preek, het julle more dalk al vergeet.  Wat julle so pas gesien het, sal julle nooit vergeet nie… Wees versigtig hoe jy leef.  Jy mag dalk die enigste Bybel wees wat sommige mense ooit sal lees…

(ontvang via epos)

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...