Sunday 1 June 2014

Wees lief vir hulle



Matteus 5 : 44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 

Dit is nou maar net so dat daar altyd iewers iemand is wat die lewe vir jou moeilik maak; so asof jou Christenskap tot die uiterste toe beproef word.  Dalk is daardie persoon iemand aan wie jy rapporteer by die werk… of ‘n kollega… Dalk is daardie iemand ‘n gewese geliefde… Dalk is daardie iemand ‘n buurman… ‘n ander motoris…

Nou kom God en Hy verwag van ons om liefde teenoor hierdie  mense te betoon, vir hulle te bid; inderwaarheid liefde teenoor hulle te betoon.  Jitte, weet God hoe moeilik dit is?  Het Hy al opgelet hoe onregverdig jy behandel word?  Natuurlik weet Hy; Hy was immers self hier op aarde.

Sekere mense kan jy eenvoudig nooit tevrede stel nie.  Maak daarmee vrede wanneer jy agterkom dat iemand voortdurend foutvind met dit wat jy doen of jou kritiseer.  Hoe meer jy jouself of jou optrede probeer regverdig, hoe meer mag gee jy aan daardie persoon.  Byt op jou tong, glimlag en as jy moet antwoord, doen dit met ‘n sagte, beleefde stem.

Natuurlik gaan dit nie elke dag werk nie, want jy is net ‘n mens, maar vra God om jou by te staan.  Probeer die ander persoon verstaan.  Dit kan dalk net wees dat jy en jou aardsvyand groot vriende raak as jy hom/haar ‘n kans sou gee. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...