Tuesday, 21 October 2014

Pappa se leë stoel



Jakobus 2:23   So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem.
‘n Man se dogter het op ‘n keer die plaaslike predikant genooi om vir haar pa te kom bid, aangesien hy terminaal siek was.  Toe die predikant by die man kom, vind hy hom daar in die bed, met sy kop gestut teen die kussings.  Langs sy bed was ‘n leë stoel.
Die predikant het aangeneem die stoel was daar vir sy besoek, maar toe hy daarna uitvra het die man hom hierdie interessante staaltjie vertel.
“Ek het altyd gesukkel om te bid.  Alhoewel ek ander gehoor en gesien bid het, het ek gesukkel om sommer net so met ‘niemand’ te praat.  ‘n Vriend het toe vir my genoem dat ek gebed meer soos ‘n gesprek met Jesus moet sien.  Hy’t voorgestel dat ek ‘n leë stoel iewers posissioneer en dan vir my voorstel dat ek met God praat.  Jesus noem immers dat Hy altyd met ons is.”  Die man het baie ingenome met hierdie plan gelyk.  “Wel, vandag doen ek dit steeds.  Ek gesels sommer net met die stoel en verbeel my Jesus sit hier langs my.”  Hy knipoog vir die predikant:  “Soms is dit sommer net sulke kort hallo en tot siens sessies, maar sommige is sulke elle-lange gesprekke.”  Skielik kyk hy bekommerd na die predikant en sê:   “Dominee moet net nie dat my dogter dit hoor nie.  Sy sal dink ek het al my varkies verloor.”
Hy en die predikant het nog lank saamgekuier en oplaas saamgebid.  Na ‘n paar dae kry die predikant ‘n oproep van die dogter:  “Dominee, my pa het vannag afgesterf.”
“Was hy in pyn?  Het hy in vrede gesterf? ” het die predikant gevra terwyl hy die laaste gesprek tussen hul onthou.
“Nee, dominee,hy’t geen pyn gehad nie,  maar daar was iets baie eienaardig omtrent sy afsterwe.  U sien, ma pa het met sy kop op die stoel langs sy bed gelê.  Hy het so kalm en rustig gelyk toe ek hom daar kry.”
Die dominee het trane in sy oë gekry en vir die dogter gesê:  “Ek wens meer mense kan hul Skepper so tegemoet gaan.”
As jy nie so ‘n verhouding met God het dat jy met hom ter eniger tyd oor enige iets kan gesels nie, moet jy dalk die leë-stoel-manier gebruik.  Daar’s ‘n pragtige Halleluja lied:  “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus?
Kan jy jou ‘n beter manier voorstel om te sterf?  Jou kop salig op Jesus se skoot, sy arms liefdevol om jou gevou, en die seker wete dat jy weet waarheen jy op pad is… dat die dood nie vir jou ‘n verskrikking is nie.

(Skrywer onbekend)

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...