Wednesday 29 October 2014

Vyf minute



Jesaja 28:23 Gee aandag, luister na wat ek sê, let op, luister na my woorde:

Een of ander tyd begaan elke ouer ‘n ‘opvoedings fout’ met ons kinders.  Hulle kom immers nie met ‘n handleiding nie.  Ons probeer so hard om hulle reg te leer en as hulle dan nie heeltemal aan ons verwagtinge voldoen nie, is ons nie baie beindruk met hulle nie.  Ongelukkig demonstreer ons dikwels daardie gevoelens d.m.v. woorde en/of dade.  

Geleerdes praat van die 1 tot 5 beginsel.  Hiervolgens behoort jy 5 komplimente te gee vir elke keer dat jy iemand reghelp of kritiseer.  In vandag se lewe is ons so gejaag (daar is altyd iets om te doen), dat ons nie veel tyd het vir ons kinders nie.   Soms is dit net wanneer ons dissiplineer dat ons ‘tyd’ met hulle spandeer.  Meeste kinders weet nie hoe om dit te hanteer nie, behalwe om hul hartseer met verdere negatiewe optrede op te volg, in die hoop om die ouer se aandag te kry.

Iets wat jou dalk twee keer kan laat dink aan die manier waarop jy jou kind hanteer, is om jouself af te vra hoe jy die laaste vyf minute met hom/haar sou deurbring as dit hul (of jou) laaste vyf minute op aarde sou wees.  

Dissipline is noodsaaklik, maar onverdeelde aandag soveel te meer.  Ons weet almal ‘n kind spel liefde “T-I-M-E”.  As ‘n kind geliefd, veilig en geborge voel, sal die kind se optrede ook meer aanvaarbaar wees.
Vra enige ouer wat ‘n kind aan die dood afgestaan het, en hul sal jou verseker dat hul enige iets sal gee om net nog tyd met daardie kind te kon deurbring; tyd wat hul nooit weer gegun sal word nie.  Jy wil nie in daardie posisie beland nie.

Gebruik die tyd wat jul het om mekaar te leer ken en geniet.  Gesels… maak oogkontak, raak hul liefdevol aan…, lag… spandeer vyf minute waartydens jy net op hul fokus.  Partykeer raak ons so vasgevang in ‘n opvoedingsrol, dat ons vergeet dat ons eerstens ouers is.


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...