‘n Pastoor wat wyd gereis het terwyl hy die woord regoor die
wêreld verkondig, vertel hierdie verhaaltjie wat jou laat asem ophou, maar jou
ook laat nadink.
Blykbaar was hy op een van daardie lang vlugte van een
bestemming na ‘n ander, toe die waarkuwingsliggies aangaan wat passasiers
waarsku om hul veiligheidsgordels vas te maak.
Die kaptein het oor die interkom die versoek herhaal en aangekondig dat
hulle turbulensie gaan ervaar en dat die bediening van drankies dus opgeskort
gaan word. Nie lank daarna nie, word
daar nog ‘n aankondiging gemaak dat die bediening van die beplande maaltyd ook
opgeskort word a.g.v. die turbulensie wat voorlê.
Rondom hom kon hy sien hoe die nuus die ander passasiers
ontsenu. Almal het angstig gewag op die
turbulensie wat volgens die kaptein hewig sou wees.
‘n Paar minute later vlieg hul die storm binne. Die vliegtuig wip heen en weer terwyl dit
kraak en kreun onder die geweldige aanslag van die natuur. Weerligstrale verlig die hemelruim,
afgewissel met oorverdowende donderslae.
Die een oomblik word die vliegtuig die hoogte in geskiet en die volgende
oomblik plons dit meters ver na benede.
Die pastoor erken dat hy ook die ongemaklikheid en vrees van
sy mede-passasiers gedeel het. Sover hy
kon sien, het mense met wit kneukels die armleunings vasgegryp terwyl hul
liggame soos lappoppe saam met die vliegtuig geskommel het. Hier en daar het iemand beangs gegil en party
het saggies gehuil terwyl ander hardop gebid het. Dit het gevoel asof daar geen einde is wat
die storm aanbetref nie en almal het gewonder hoe lank die vliegtuig die
elemente sou kon weerstaan.
En toe vang sy oog ‘n klein dogtertjie wat totaal op haar
gemak is te midde van die chaos rondom haar.
Die een voetjie is onder haar ingevou en sy sit en lees rustig in ‘n
boek, heeltemal verlore in ‘n wêreld van haar eie. Die pastoor was stomgeslaan, want al die
volwassenes was vreesbevange te midde van die storm terwyl die meisie geen
teken van vrees of onrus getoon het nie.
Die pastoor kon skaars sy oë glo.
Uiteindelik het die storm bedaar en kort daarna het hulle
veilig geland. Dit was geen verrassing
toe die pastoor na haar stap en vra:
“Verskoon my, maar ek moet eenvoudig weet… hoekom was jy nooit bang toe
ons deur daardie verskriklike storm gevlieg het nie?”
Die dogtertjie het na hom gekyk asof die antwoord voor die
hand liggend was. “Want my pappa is die
vlieënier.”
Wyse woorde van hierdie jong meisie, ne? So het ons almal storms waardeur ons
worstel. Die donker wolke van onrus
spoel oor jou, ander se woorde tref jou soos weerlig en die lewe klap jou met
donderslae terwyl ons woes heen en weer geruk en geskommel word. Ons ken almal
hierdie tye en weet dat dit makliker is as jy op moeder aarde is as wanneer jy
in ‘n vliegtuig sit.
Laat ons altyd onthou dat ons Hemelse Vader aan die stuur
van ons vliegtuig is en dat Hy alles onder beheer het, want Hy is op pad huis
toe met ons.
(Skrywer
onbekend)
Om ‘n CD te bestel of ‘n
dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
No comments:
Post a Comment