1 Thessalonicense 5 : 18 Wees in
alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle
verwag.
Dank jy God in alle omstandighede? Let op dat die teks lees “alle”
omstandighede, m.a.w. nie net as dit goed gaan nie. Dit mag dalk onnatuurlik aan die begin voel
om Hom te dank terwyl jy sukkel om kop bo water te hou, maar dit is presies wat
ons moet doen. Daar is altyd iets om dankbaar
voor te wees. Fokus op wat God gaan doen
in jou lewe, nie op die krisis waarin jy jouself bevind nie.
As jy dankbaar is, open dit die deur vir God om oor te
neem. Die teks sê immers dat dit is wat
God van ons verwag. Hoe nader jy aan Hom
is, hoe meer sal jy Sy krag en guns ervaar.
Probeer ‘n lewe van dankbaarheid leef.
“Vader, ten spyte van
dit waardeur ek vandag gaan, kies ek om U te loof en prys… alhoewel ek siek is, weet ek dat U my gesond
gaan maak… al gaan my huwelik deur stormwaters, weet ek dat U ons weer in kalm
waters sal bring… Dankie vir my vriende, my familie, vir nog ‘n dag wat ek
gespaar is…”
Sodra jy aan redes begin dink om Hom te dank (in alle
omstandighede), sal jy al meer redes tot dankbaarheid identifiseer. Voor jy jouself kom kry, is die krisis verby
en besef jy dat God jou veilig, sterker en wyser anderkant laat uitkom het… nog
‘n rede tot dankbaarheid.
No comments:
Post a Comment