Monday 1 December 2014

Sit, Bly, Bid



Rachel Bickford vertel die volgende verhaaltjie.

Die pastoor het gesukkel om mense te kry om kerk by te woon.  Toe ontvang hy ‘n merkwaardige en baie sjarmante antwoord op sy gebede.

Sondagmiddag, presies vyfuur, terwyl die orrelklanke deur die kerk klink, stap hy na die preekstoel.  Hy is die pastoor van die “Pilgrim Congregational Church” in Noord Weymouth, Massachusetts en die gemeentelede is sy tweede familie.  Hy sien die getroues, wat altyd daar is.  Lucy, ‘n ouer dame, met ‘n huppel in haar stap en sysagte goue hare.  Sam, soos gewoonlik in die voorste ry, terwyl hy met sielvolle, bruin oë na die pastoor kyk.  Chloe, ‘n lewenslustige jongeling wat heeltyd rondskuif totdat die koor begin sing.  O ja, ek moet darem net noem Lucy is ‘n terrier, Sam is ‘n pug en Chloe is ‘n Bernese berghond.
Ons diens vir mense en hul troeteldiere is ‘n reuse sukses.  Dalk is die saadjie geplant lank voor dit ‘n aanvang geneem het, want die pastoor wou altyd ‘n veearts word.  Hy was altyd gelukkig in die gemeente, maar het opgelet dat al minder mense kerk toe kom, seker maar as gevolg van meer sport op Sondae en so ‘n skootjie ongeloof.  Een Sondag het hy so na die leë sitplekke gestaar, en in sy gedagtes vir God gevra wat hy kan doen om mense weer opgewonde daaroor te maak om kerk toe te kom.

So gebeur dit eendag dat hy ‘n epos kry van ‘n vriend wat vir gebed vra.  Terwyl hy sy kop laat sak om te bid, val sy oog op sy twee honde wat by sy voete lê;  sy getroue skaduwees.  Skielik kom Psalm 148 by hom op:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep;… wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,

Net daar het hy besef wat gedoen moet word.  Mense neem hul honde graag saam op uitstappies, so hoekom nie kerk toe nie?

Natuurlik was sy vrou aanvanklik geskok oor sy idee, maar oplaas het sy gesê:  “Jy weet, dis so ‘n wilde idee, dit mag dalk net werk.”

Ek het die idee met ander kerkleiers bespreek en hulle het saamgestem dat daar niks is om te verloor nie, alhoewel dit ‘n bietjie verregaande klink.  Net daar begin ons die volgende Sondag se diens adverteer.  Daar sal tee en eetgoedjies wees na kerk en ook ‘n geleentheid om so ‘n bietjie balle te gooi vir die honde.  Alle honde was welkom, solank hul aan ‘n leiband was.  Die opskrif was:  “Woof’nWorship’.

Die eerste Sondag was ek ‘n bietjie senuweeagtig en het skielik gewonder wat sou gebeur as die diere nie oor die weg kom nie, maar ek het my twee getroue vriende saam met my kansel toe geneem.  Toe ek daarvandaan oor die gemeente uitkyk, sien ek dat byna elke persoon ‘n troeteldier by hul het, wat baie opgewonde lyk vir die groot geleentheid.   Gedurende die diens het ek opgelet hoe ‘n Duitse Herdershond ‘n piepklein Chihuahua se ore lek.  Toe die koor “Amazing Grace” sing, het ‘n Snauzer saamgesing, en hy’t nogal amper noot gehou!  Die beste van alles was dat die mense ewe skielik baie meer met mekaar gekommunikeer het.  Iemand het opgemerk dat hul altyd uitgevoel het, maar dat hul nou, met hul hond, deel voel van die gemeenskap.

Een dame wat ‘n stryd teen kanker gevoer het, het gesê:  “Elke Sondag dat ek voel ek gaan liewer in die bed bly, onthou ek my verantwoordelikheid teenoor my hond, Diego, en natuurlik ons albei se nuwe vriende wat daar op ons wag.”

Die pastoor het ‘n tevrede glimlag op sy gesig gehad terwyl hy oor die gemeente kyk en besef dat God dikwels verregaande maniere het om jou gebede te beantwoord.  Dit mag nie naastenby wees wat jy ingedagte het nie, maar dit is verseker perfek.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...