Hebreërs 10:23 Laat ons styf vashou aan die hoop
wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
Roger Darlington deel sy liefde vir die rolprent “Lawrence of Arabia” en
verwys na ‘n spesifieke toneel in die rolprent wat hy as sy gunsteling gedeelte
beskou. Dit is die gedeelte waar Lawrence
triomfantelik terugkeer uit die Nefud woestyn, nadat hy teruggegaan het om Gasim te gaan red. Om deur die Nefud
woestyn te reis, word as onmoontlik beskou, selfs deur plaaslike Arabiere, maar
Lawrence oortuig hulle dat hulle die Turkse hawe, Aqaba, vanuit hierdie rigting
suksesvol kan inval. Na hulle hierdie
byna bomenslike tog deur die wrede woestyn oorleef het, kom hulle agter dat
Gasim iewers van sy kameel afgeval het.
Lawrence sê dat hy teruggaan om die man te gaan red, maar die res glo
dat dit ‘n futiele taak is omdat sy dood as’t ware reeds neergeskryf is. Toe Lawrence die onmoontlike vermag en met ‘n
lewende Gasim terugkeer, erken Sherif Ali:
“Waarlik, vir party mense is niks neergeskryf, tensy hul dit self
geskryf het nie.”
Roger erken dat hy as ontvanklike tiener gefassineer was deur Lawrence se
durf en onselfsugtigheid om iemand, wat hy skaars geken het, uit daardie
ongetemde, moordende, woestyn te gaan red.
Dit het ‘n geweldige indruk op hom gemaak dat iemand soveel determinasie
aan die dag kon lê, teen alle logika in, om selfs die onmoontlike te vermag. Hierdie toneel sou die res van Roger se jong
lewe rig en inspireer; op meer as een
manier.
Wanneer jy jou op iets toespits, en glo dat jy dit kan doen, sal jy van
Iewers die krag kry om dit deur te voer, veral as jy God daarin ken.
No comments:
Post a Comment