1 Thessalonicense 4 : 12 Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die
mense buite die gemeente afdwing
As ander
na jou lewe kyk, wat sien hulle? Dwing
jou daaglikse handel en wandel respek af?
Gelowiges is verteenwoordigers van God op aarde. Ons behoort volgens ‘n hoër standaard te lewe
as nie-gelowiges. Ons lewe behoort hulde
aan God die Vader te bring. Dis nogal ‘n
groot verantwoordelikheid om te aanvaar die oomblik dat jy jouself as ‘n
Christen beskou.
Jy
sal oplet dat die vers nie verkondig dat jy uit jou pad moet gaan of met vertoon
hoef te leef sodat mense jou kan respekteer nie. Dit verwag ook nie van jou om ‘n Nobelprys te
wen om God te verheerlik nie. Nee, dit
behoort natuurlik, sonder enige inspanning, deel van jou alledaagse bestaan te vorm. Dit beteken jy moet altyd die regte ding doen
en versigtig wees met jou woorde, selfs wanneer niemand daar is om jou gedrag
waar te neem nie. Jy behoort die gemene deler te wees, die vredemaker, die een
by wie ander wil wees omdat daar iets spesiaal uit jou straal. Jou houding en geloof moet een van
nederigheid en dankbaarheid wees.
Onthou
dat jy raak soos diegene met wie jy die meeste tyd spandeer. Dus, as jy meer tyd met God deurbring, sal jy
soos Hy word. Mense sal jou bewonder
omdat hulle God in jou sien, nie vir eie eer nie.
As Christen behoort ons ook die diere waaroor God ons aangestel het in ag te neem en nie deel te hê aan Guyfawkes nie. Laat ons eerder ander ontmoedig om aan hierdie ritueel deel te neem.
Om ‘n CD te bestel of ‘n
dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
No comments:
Post a Comment