Jesaja 50 : 4 Die Here my God
het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg
is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy
laat my luister soos 'n leerling moet luister.
Daar gaan verseker nie 'n dag verby dat jy nie iemand teëkom wat hul
hart teenoor jou oopmaak nie. Soms net op 'n skrefie, maar partykeer
sommer wawyd oop. Die lewe druk van alle kante. Ons almal voel die
druk van prysstygings, werksdruk, politieke onstabiliteit, ens. Die
vraag is egter hoe jy daardie geleentheid hanteer?
Soms spreek jy jou kommer oor iets uit, en dan is die reaksie nie die
simpatieke oor waarop jy gehoop het nie. Inteendeel, die luisteraar
sluit eenvoudig by jou punt aan en neem dit verder. Bygesê, luister
is 'n kuns. Alvorens jy volgende keer die storie verder vat, praat
eerder die persoon moed in. Dit sal so verfrissend wees as jy nie
ook gal braak nie, maar eerder 'n positiewe opmerking maak wat die
persoon hoop sal gee. Ons val so maklik in die lokval van saamkla en
negatiwiteit. Onthou negatiwiteit kweek negatiwiteit.
Wanneer jy God vra om jou te leer luister, sal jy binnekort baie
gewild wees, want dis eintlik die klaer se grootste behoefte... om
gehoor te word... om daarvan verseker te word dat dinge nie so erg is
as wat hy of sy dink nie. Positiwiteit is net so aansteeklik, en jy
kan die katalisator wees wat 'n samelewing verander.
No comments:
Post a Comment