1 Tessalonisense 5 : 18 Wees in
alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor
julle.
Royden Groenemeyer het in sy 18 jaar al meer kere by die dood
omgedraai as wat sy ma wil onthou. Van twee-jarige ouderdom was hy
in en uit hospitale. Dokters kon nie met sekerheid vasstel wat die
oorsaak vir sy ineenstortings was nie. Een keer was hy vir drie
maande in 'n koma en wou die dokters sy ouers oorreed om toestemming
te gee om die masjiene af te skakel, maar hul het geweier. Een aand
het hul besluit om saam met vriende deurnag te bid. Die volgende
oggend het die dokter geskakel om te laat weet Royden het uit sy koma
ontwaak.
Op 'n stadium het hy 'n kanker gewas gehad en bestraling ondergaan.
Toe sy ouers sy lyding aanskou, het hul besluit om die behandelings
te laat staak. Alhoewel dokters gereken het hul teken sy
doodsvonnis, het daar weereens 'n wonderwerk gebeur, want opvolg
toetse het bewys hy is kankervry.
Royden het egter nie ongeskonde hierdeur gekom nie en moes 'n
spesiale skool bywoon omdat hy swaar geloop het en ook 'n
spraakgebrek gehad het, maar ook hier het hy geseëvier, want vandag
is hy die trotse eienaar van 'n senior fase-sertifikaat, die
ekwivalent van 'n matrieksertifikaat vir gestremdes.
Hy is tegnies aangelê en hoop om 'n entrepreneur te word en ek glo
ook hier sal hy sukses behaal, want Royden beskik oor 'n geheime
wapen, gelowige ouers wat nooit ophou bid vir hul kind nie. Ten
spyte van dokters se bedenkinge, ten spyte van liggaamlike
gestremdheid, ten spyte daarvan dat hy 'anders' is, het hy almal
verkeerd bewys, met genade van Bo.
So as jy vandag mismoedig is, lees weer die gedeelte oor Royden.
Laat toe dat sy sukses jou motiveer om ook vas te byt. Niks is
onmoontlik as jy jou kop daarop sit en op God vertrou nie. Gebed is
kragtig. (met erkenning aan Kuier)
No comments:
Post a Comment