Sunday 18 January 2015

Gebed vir 2015

Jesaja 40 : 31 Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Liewe Heer, vandag wil ek aan U hulde bring. Baie dankie dat U my 'n nuwe jaar laat binnegaan aan U sy. Dankie dat U verlede jaar elke tree saam met my gestap het, dat U my toelaat om my vlerkies te sprei. As ek terugkyk, kan ek sien dat U my nooit in die steek gelaat het nie. Dit was nie altyd maklik nie en daar is tye wat ek liewer nie weer uit eie vrye wil weer wil deurmaak nie, maar ek weet dat ek vandag 'n beter mens is as gevolg van dit waarmee U my vertrou het. 

Liewe Heer, ek is nie 'n volmaakte kind van U nie, maar ek wil dit baie graag wees. Lei my en skep in my 'n rein hart, O Heer sodat ek altyd in afhanklikheid van U sal leef en dat ek elke tree sal gee in die rigting wat U vir my bepaal het. 

Liewe Heer, ek weet dat vanjaar nie sonder sy eie dosis probleme sal verloop nie. Al wat ek kan vra, is dat U my die krag sal gee om dit wat in my rigting kom die hoof te bied. Ek weet egter ook dat U 'n God van oorvloed is en daarom wil ek U nou reeds bedank vir die seëninge wat ek uit U hand gaan ontvang. Ek weet dat ek niks verdien nie, maar ek kom na U met volle vertroue, my oë onwrikbaar op U gerig. Verlede jaar is agter my en ek kyk met afwagting uit op die horison van 2015. 

Liewe Heer laat ek elke dag liefde uitstraal en mag ek U vra om my familie en vriende te seën. Here, ek bid vir ons land en die regering... U ken die uitdagings wat ons in die gesig staar. Sterk asseblief hul hande en leer hul ook om volgens U wil te wandel. Vader van genade, laat ons harte oorloop van vreugde en liefde vir ons naaste, maar veral vir U.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...