Prediker 3 : 1-4 Elke ding het
sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n
tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant, 'n
tyd om plante uit te trek, 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n
lewe te red, 'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou, 'n tyd om te
huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te
dans…
As ons heeltemal eerlik moet wees, wil ons nie juis weet dat elke
ding sy tyd het nie. Niemand wil immers hoor dat daar terugslae sal
wees of dat siekte of dood deel van ons toekoms is nie. Miskien wil
ons nie die werklikheid in die oë staar nie of miskien leef ons in
ontkenning. Wie weet?
Wanneer die einde van die jaar aanbreek, sien ons met groot hoop uit
na die nuwe jaar, want opportunisties hoop ons dat dit 'n sorgelose
jaar sal wees. Dalk sal dit minder van 'n skok wees as ons besef dat
die nuwe jaar sy eie dosis soet en suur gaan meebring; dat alles 'n
tyd het. Uit 'n positiewe hoek, kan dit nie altyd sleg gaan nie,
want daar is ook 'n tyd vir goeie dinge. Die tye wissel mekaar
ritmies af en maak die lewe interessant.
Alhoewel niemand van ons ons hand sal opsteek vir 'n uitdaging nie,
is dit tog tye wat jy altyd onthou. Die menslike brein het die
wonderlike vermoë om die positiewe brokkies uit te haal en te
romantiseer oor tyd. Hoeveel van ons dink nie met heimweë terug aan
die verlede en die goeie ou dae nie? Was dit altyd sorgvry? Meesal
nie, maar ons mis dit, want dit is die skadus wat die skildery van
ons lewe vervolmaak.
No comments:
Post a Comment