Wednesday 21 January 2015

Klein jakkalsies

Hooglied 2 : 15 “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.
 
Hoe verskillend is mense nie? Wat vir een persoon snaaks is, laat 'n ander frons. Een persoon is doodgelukkig te midde van chaos rondom hulle, terwyl 'n ander pynlik netjies is. Dis presies waar die klein jakkalsies hul vatplek kry om jou huwelikswingerd te verniel. 

Teenoorgesteldes trek mos mekaar aan. Gewoonlik trou 'n suinige persoon met 'n vrygewige een of 'n introvert met 'n ekstrovert. Weereens ideale teëlaarde vir satan en sy trawante.

Onthou altyd wat jou na jou maat aangetrek het. Jy behoort nie dit wat jou na hom/haar aangetrek het te probeer verander na die huwelik nie, want dan is dit nie meer die persoon vir wie jy liefgeword het nie. Dis heeltemal in orde om van mekaar te verskil en die geheim is om mekaar se sterk punte reg te kanaliseer. 

Dis makliker om jou houding teenoor iemand te verander as wat dit is om hul natuurlike aard te verander. Glo my, dit neem soveel druk van jou verhouding af. Soms irriteer een swakpunt van ons wederhelf ons, maar ons ignoreer al die ander pluspunte. Besluit liewer waarmee jy kan saamleef en waarmee nie. Een voorbeeld... As jou man 'n goeie pa is, hoekom kerm en kla oor die gras wat nie gesny word nie? Jy kan altyd tuindienste kry, maar 'n goeie pa is skaars. 

Jy ken jou eie huweliksomstandighede en jy weet dat jy 'n belofte voor God afgelê het. Kyk wat jy kan doen om daardie huwelik te laat werk. Die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, is om hul ma/pa lief te hê en dit beteken dat jy hul aanvaar... sogenaamde foute en al.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...