Titus 1 : 7 Want
’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie
eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen
vuilgewinsoeker nie;
Sasi (Suid-Afrikaanse Spaarinstituut) berrig dat Suid-Afrikaners se
skuld van 1980 tot 2013 amper verdubbel het van 41,9% tot 75.3%.
Volgens die Reserwebank het die skuldlas van privaat huishoudings
gestyg van R230 miljard tot R2.1 triljoen en dit is net van 1994 tot
2010! M.a.w. Ons lewe op skuld.
Onmiddellik behoort jy hierdie statistiek met jou eie situasie te
vergelyk. Hoe staan jou geldsake hier aan die begin van die jaar?
Die feestyd het die manier om ons almal 'n bietjie meer vrygewig met
ons beursies te laat omgaan. Daarby gesê nie altyd oordeelkundig
nie. En dit is juis waar die jaar op die verkeerde noot vir baie van
ons begin, of dalk net op 'n nog slegter noot as waar hy verlede jaar
geeindig het.
Ons almal weet waarheen om te gaan as ons begin noustrop trek, maar
hoe verantwoordelik is ons met dit waarmee ons toevertrou word? 'n
Goeie nuwejaarsvoorneme is dalk om nie meer so maklik geld uit te gee
nie. Daar word gesê dat jy twee weke moet wag alvorens jy iets koop
wat jy graag wil hê. Na twee weke is die item dalk nie meer daar
nie, of jy't van die behoefte vergeet, of jy besef dat jy daarsonder
kan klaarkom. Ons wil alles hê, selfs al het ons dit nie nodig nie.
Selfs op die TV word dit uitgebuit met advertensies soos: “I need
to want it...”
Binnekort breek die eerste betaaldag van 2015 vir baie aan. My gebed
vir jou is dat jy meer verantwoordelik met jou geldsake sal omgaan.
Maak 'n kopskuif om meer verantwoordelik met jou geld om te gaan. As
jy in finansiële moeilikheid is, gaan sien 'n skuldberader, of
gesels met jou skuldeisers... maak 'n daadwerklike plan om uit die
skuld uit te kom. Ek bid ook dat jy sal begin spaar om voorsiening
te maak vir jou aftrede. Al is jy hoe jonk, begin vandag spaar.
Laat spaar, eerder as nog skuld/uitgawes jou motiveer. Diegene wat
geld het, spaar getrou. Spaar is vir hulle 'n prioriteit, nie nog
skuld nie. As spaar 'n gewoonte word, gaan jy dit nie eens agterkom
of die geld mis nie, maar kort voor lank gaan jy 'n mooi neseiertjie
opgebou het.
Dieselfde God wat jou as rentmeester aangestel het, gaan eendag van
jou rekenskap eis, maar dis ook dieselfde, liefdevolle, God wat jou
sal bystaan as dit jou hartsbegeerte is om skuldvry te wees. Jy's
nie alleen nie. Hy sal jou bystaan...vra net.
No comments:
Post a Comment