1 Samuel 10 : 27
Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?” Hulle het hom
met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het
Saul hom nie gesteur nie.
Nie almal was beindruk toe Saul as koning
ingeseën is nie. Kyk maar net na die
kwaadwilliges se neerhalende houding in die teks. Die interessante deel is dat Saul hom nie aan
hulle gesteur het nie. Hy kon hom vererg
het en hul iets teruggesnou het of hy kon toegelaat het dat hul woorde hom
kasty, maar hy het verkies om hulle te ignoreer.
Nou wil ek by jou weet of daar mense is wat
jou seermaak? Is daar dalk ‘n vlieg in
die salf by die skool of werk? Maak hul
woorde of optrede jou seer? Voel jy asof
jy niks kan regdoen nie? Trek jy jou hul
mening of woorde aan, of ignoreer jy hulle omdat jy weet wie jy is?
God het vir Saul uitgekies om koning te
word. Hy het jou ook uitgekies om te
wees wie jy is. Jy is op presies die
regte plek op hierdie oomblik, so moenie probeer weghardloop van jou
omstandighede nie. Besef eenvoudig dat nie almal aan jou kant is nie. Party is eenvoudig jaloers en niks wat jy sê
of doen sal hul ooit van mening laat verander nie. As hul sien dat jy seerkry, gaan hul genot
put daaruit. Moet ook nie probeer om hul
guns te wen nie. Gaan jy net jou gang en
bring tyd deur saam met ander wat ook die goed kan sien wat God in jou doen.
Norman
Vincent Peale het gesê: Vermy
mense wat negatief dink en optree.
Jy het hul nie in jou lewe nodig nie.
Ignoreer die kritici en wees jy net presies wie God wil hê dat jy moet
wees.
No comments:
Post a Comment