Thursday 5 March 2015

'n Briefie vir jou

I Samuel 1:5  maar aan Hanna het hy ’n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.

Een van die mees aangrypende artikels wat ek nog gelees het, is geskryf deur Wendy Ruth Lopatin.  Die artikel gaan oor ‘n brief wat sy skryf aan die kind wat sy nooit gebaar het nie.  Haar hele lewe lank het sy gesmag na ‘n kindjie.  Sy’t selfs name gereed gehad vir hul:  Ruth as dit ‘n dogtertjie is en Daniel as dit ‘n seuntjie is. 

In haar woorde:  “Life doesn’t always follow one’s chosen course.”  Sy is getroud, maar a.g.v. loopbaan besluite en ook die feit dat hul wou emmigreer, het sy eers op die ouderdom van 31 swanger geraak.  Die huwelik was ongelukkig alreeds wankelend en het nie die miskraam wat sy gehad het, oorleef nie.  Op 38 ontmoet sy haar sielsgenoot, maar hy is geskei en sy dogter woon by haar ma.  Omdat hy nie die skeiding van sy dogter kan hanteer nie, weier hy haar summier die geleentheid om ‘n eie kindjie te hê.  Toe hy uiteindelik versag, is sy reeds in haar middel veertigs en helaas word sy nooit swanger nie.  Haar moederskoot bly leeg, vandaar die aangrypende brief aan die kindjie wat sy nooit kon vashou nie.

Berusting kom eers toe ‘n vriendin haar kind op 29 jarige ouderdom aan die dood afstaan, want skielik besef sy dat sy ten minstenooit haar Ruth of Daniel kan verloor nie, want hul het nooit die lewenslig aanskou nie.

‘n Leë moederskoot moet seker een van die grootste sere wees wat ‘n vrou kan ervaar.  Ons weet nie hoekom God jou dit ontneem nie, maar ek kan jou verseker dat dit nie is omdat hy jou wil seermaak nie.  My gebed vir jou wat ook smag na ‘n kindjie, is dat jy soos Wendy iewers berusting sal vind. 


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...