Sunday 15 March 2015

Stuur my!

Matteus 9:38  Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Oor die eeue heen maak God op gewone mense staat om die oes in te samel waarvan Hy hier in Matteus praat.   “Hoe weet ‘n mens dat God jou geroep het?” vra jy.  Jy sal dit weet omdat ‘n intense behoefte by jou ontstaan om die opdrag uit te voer.  Dis ‘n gevoel waarvan jy nie kan wegkom nie.  Jy weet net jy moet gehoorsaam.

Dis een ding om gekies te word om vir God te werk, maar dis ‘n ander ding om dit te gaan doen en daarmee vol tehou.  Die rede daarvoor is dat satan alles in sy vermoë sal doen om jou te keer.  Hy gaan twyfel by jou saai.  Sommer reg van die begin gaan jy twyfel of jy reg gehoor het. Daarna sal hy jou laat glo jy’s nie toegerus nie… jy kan nie alles los nie… jy beskik nie oor die nodige fondse nie… en so sal dit aangaan.

Gelukkig word jy nie alleen uitgestuur nie. God rus jou toe en Hy stap self voor jou uit.  Menige sendeling sal jou vertel van God se byna onmoontlike voorsiening en beskerming.  Gehoorsaamheid aan God, word altyd beloon.


Onthou net dat dit nie altyd nodig is om die sendingveld te besoek nie.  God kan jou dalk in die kerk gebruik of by jou werk of in die gemeenskap.  Jy sal weet waartoe Hy jou roep.  Is jy gereed om uit te gaan om daardie oes te gaan insamel?  Sien jy kans om jou hele lewe aan Hom te wy en vir Hom terug te gee? Weet jy, dis nie ‘n opoffering nie; dis ‘n absolute voorreg en ‘n ongelooflike geseënde ervaring.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...