Thursday 19 March 2015

U let op my trane

Psalm 56 : 8  My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.

Die Fillistyne het vir Dawid in Gat gevange geneem.  Dawid is nie op ‘n lekker plek in sy lewe nie.  As gevangene het hy genoeg tyd om homself te sit en bejammer.  Hy is gejaag en vervolg.  Hulle beskuldig hom, het bose planne en is uiters vyandig teenoor hom.

Dawid is dalk moedeloos, maar hy is nie sonder hoop nie.  Hy weet baie goed dat God alles sien gebeur en dat niks by God ongemerk verbygaan nie.

Miskien is daar mense wat jou ook ‘n harde tyd gee.  Dit voel vir jou asof jy net mooi niks kan regdoen nie en of hul gedurig op jou ‘case’ is.  Hul optrede en hul woorde maak jou seer. Jy probeer jou bes om sterk te staan en die ander wang te draai, maar dit kry jou tog onder. Uit pure magteloosheid dryf hul jou tot trane.  Jy weet dus presies hoe Dawid moes voel.

Vandag moet jy mooi kyk na hierdie teks.  Jou pyn en hartseer word raakgesien.  Elke traan wat jy stort is in Sy boek opgeteken.  Jy is nie alleen nie en jy is nie vergete nie.  Vers 10 verseker jou: God is aan my kant. en vers 12 vra ‘n baie belangrike vraag:  Wat kan 'n mens aan my doen?


Keer op keer red God ons uit.  Net soos Dawid moet ons Hom ook loof en prys en nie vergeet om dankoffers aan Hom te bring nie.  Niemand is so vir jou as wat God is nie en niemand het jou so lief as wat Hy jou het nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...