Tuesday 24 March 2015

Verbly jou in die Here

Psalm 32:11  Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes.

Elke dag, min of meer op dieselfde tyd, hoor ek ‘n man buite ons kantore sing.  Jy hoor hom van ver af en die hele tyd sing hy uit volle bors.  Aan die begin het ons gedink die persoon het te diep in die bottel gekyk, maar mettertyd het ons, ons horlosies begin dophou en geweet ons sal nou enige tyd die sanger hoor.  Met die eggo tussen die geboue, kan jy egter nie uitmaak wat hy sing nie.

Op ‘n dag is ek buite terwyl hy verbykom.  Groot is my verbasing om te sien dat dit ‘n bergie is wat van een drom na ‘n volgende loop en daarin krap terwyl hy uit volle bors sing:  “Ek kyk op na die Here…” Dis nie ‘n bekende melodie nie, heelwaarskynlik een wat hy self opgemaak het, maar dis seker een van die mooistes wat ek al gehoor het.  Nie omdat dit so melodieus is nie, maar omdat hy dit met vaste oortuiging uit sy hart uit sing.  As bergie besit hy niks en het hy geen inkomste nie, maar Hy kyk op na die Here en die sorg vir hom.


Die rou eerbetoon en vertroue van hierdie man laat my besef hy is ryker as enigeen rondom hom.  Hy plaas nie sy vertroue in ‘n baas, ‘n inkomste, besittings of aardse rykdom nie.  Hy kyk eenvoudig op.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...