Tuesday 26 January 2016

Draai die ander wang



Matteus 5:39  Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

Hoeveel keer het ons al artikels gelees van mense wat hul deur opportuniste uit hul swaarverdiende geldjies uitgepraat het?  Gewoonlik lees ons ook dat die rentekoers onnatuurlik hoog was… dat gierigheid die oorhand gekry het… dat mense hul huiswerk moet doen… dat hul eerder met betroubare makelaars of banke moet sake doen.

Wel, dit is presies wat ‘n dame gedoen het met haar pensioengeld toe sy na 37 jaar diens afgetree het.  Sy het haar geld deur ‘n geakkrediteerde bank makelaar belê.  Twee maande later was elke sent daarmee heen en moes sy hoor dat die makelaar geregtelik ondersoek word.  

Hoe sou jy voel as jy uiteindelik aftree, met die nodige gemoedsrus van ‘n neseiertjie, net om skielik agter te kom daar is eintlik niks?

Hierdie dame het besluit dat sy nie dit wat gebeur het kan omkeer nie, maar dat sy wel haar talente kan gebruik om weer van voor af te begin.  Nie vir een oomblik het sy gevra:  “Wat het ek gedoen dat God my so straf nie?”  Haar redenasie was dat sy besluite geneem het wat negatiewe gevolge gehad het en dat net sy iets daaraan kan doen om dit om te keer.  Hierdie vrou het letterlik die ander wang gedraai.

As onderwyseres het sy gereken dat skoolhou in Engeland die oplossing is, veral met die gunstige wisselkoers.  Maar God het ander planne met haar gehad.  Sy het ‘n pos as versorger van ‘n senior burger gekry.  Die dame se familie was onbeskof en het met alles foutgevind wat sy gedoen het.  Gewoonlik kan ‘n mens meer hanteer as jy ‘n goeie nagrus kry, maar dit was haar ook nie beskore nie.  Snags het sy op ‘n matras op die koue vloer geslaap in ‘n posseël-grootte kamertjie.

Omdat sy geweet het dat sy nie kan tou opgooi en huis toe kom nie, het sy die agentskap gevra om haar te verskuif.  Sy het by ‘n baie dierbare dame in Wallis beland.  Hulle was onmiddellik geesgenote.  Sy het die dame 6 jaar lank opgepas en uiteindelik huiswaarts gekeer.

Alles het verander.  Sy was nie meer die mens wat sy was voor sy na Engeland vertrek het nie.  Oor die verloop van jare het sy soveel waardevolle lesse geleer.  As mens het sy ‘n metamorphose ondergaan en as bonus nader aan God gekom as ooit te vore.  Uiteindelik was die verlies van haar pensioen ‘n bedekte seën.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...