Thursday 4 February 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11  ‘n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees

Ons bou so maklik ‘n muur tussen ons en diegene wat nie soos ons wil dink en optree nie.  Ek sal hom/haar nooit vergewe nie… Ek wil hom/haar nooit weer sien nie…

As die dood vandag aan jou deur kom klop, sou jy nog so oor die ander persoon voel?  Om kwaad vir ander deur die lewe te gaan, hou jou ook terug.  Alhoewel jy nie meer met daardie persoon wil praat of hul vergewe nie, beteken dit nie dat jy nie meer aan hulle dink nie.  Om die waarheid te sê, ek dink jy dink meer aan hulle.  Wraakgedagtes bou op.  Veral snags maak die spoke amok met sê-nou-maar speletjies.

Voor jy dus jou humeur verloor of daar woorde geuiter word wat letsels veroorsaak, haal diep asem.  Jy hoef nie altyd die laaste woord in te kry nie.  Jy hoef ook nie altyd reg te wees nie.  Dit vat baie meer van jou om weg te stap of niks te sê nie, ek weet, maar jy sal soveel beter oor jouself voel. 


Vergewe en vergeet.  Reik uit na diegene vir wie jy kwaad is en as dit nodig is, vra om vergifnis, maar moet dit nie laat tot die dag dat die doodsengel een van julle besoek nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...