Sunday 13 March 2016

Liefde in aksie

1 Johannes 3 : 17 – 18  Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Jy’t seker al gehoor dat jy kan gee sonder liefde, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee nie.  Die teks herinner ons so pragtig daaraan dat liefde nie net oor woorde of gedagtes is nie, maar oor optrede of aksie.  Liefde beteken dat jy uitreik na ander en doen wat hul gelukkig maak.  Partykeer is dit so maklik soos ‘n glimlag, maar dit kan ook verder strek.  Dalk kan jy vir iemand se brandstof of kruideniersware betaal?  Kyk ‘n bietjie rondom jou en jy sal gou sien waar jy iets vir iemand anders kan beteken.  Daar is dalk ‘n bejaarde egpaar wat nie meer self hul gras kan sny nie of self inkopies gaan doen nie.  Miskien is daar ‘n enkelma met wie se kinders jy kan bal skop.  Daar is altyd iewers waar jy ‘n handjie kan gee.


Begin liefde uitstraal met dade. Moet nie net fokus op mense wat naby aan jou is of dieselfde as jy is nie.  Reik uit na diegene wat nie soos jy lyk of dink nie.  God wil Sy genade op aarde uitstort, maar Hy het jou hande nodig.  Jy kan ‘n saaier van liefde wees.  Strooi liefdessaadjies net waar jy gaan.  Daardie saadjies gaan ontkiem en self saad skiet wat weer ander se lewens sal raak of verander.  Ons mag nie apaties teenoor ander wees nie.  Liefde teenoor ons naaste is ‘n opdrag van God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...