Wednesday 25 May 2016

Nie beter nie, maar vry

Eksodus 6 : 6  Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees. Dan sal julle besef dat Ek, die Here, julle God is wat julle van die dwangarbeid van Egipte bevry.

As slawe moes die Israeliete aldag en heeldag boustene maak.  Hulle is elke dag gedruk om meer en meer boustene te maak.  Later was die hoeveelheid wat daar van hul verwag is om te maak so groot, dat dit menslik onmoontlik was om dit reg te kry.  Dan is hul gestraf.  Die omstandighede was onmenslik en Farao het net meer en meer verwag.  Op een stadium gee hy opdrag dat die strooi wat hul gebruik om die boustene mee te maak, weggeneem word, maar terselfdertyd verwag hy dat hul dieselfde hoeveelheid boustene vervaardig.  Buiten dat hul hierdie onmenslike hoeveelhede moes maak, moes hul nou nog ook strooi gaan soek.

Terwyl hul desperaat strooi gesoek het, sou hul verseker bid: “Asseblief, Here, wys ons waar om nog strooi te vind.  U weet dat hulle ons gaan slaan en straf as ons dit nie maak nie.  Here, help!”

Weet jy wat mis ek en jy hier?  Die Israeliete het hul lot tot so ‘n mate aanvaar dat hul selfs bid om gehelp te word om beter slawe te wees.  En God beantwoord dalk nie hul gebede nie.  Hoekom?  God se plan was nie dat hul in die juk van slawerny vasgevang bly nie.  Terwyl die Israeliete in slawerny vasgevang was, het God nie opgehou om aan hul te dink nie.  Hy het Moses in die paleis laat opgroei en ‘n invloedryke man laat word.  En Hy was besig om Moses voor te berei om die volk na ‘n beloofde land te lei.

Ook jy moet jou nie blindstaar teen die omstandighede waarin jy jou bevind nie.  Jy is dalk, soos die Israeliete so passief ‘geslaan’, verneder en uitsigloos, maar weet vandag dat God reken jy is die kop en nie die stert nie.  Jou visie mag dalk beperk wees, as gevolg van omstandighede, maar van waar God kyk, lyk jou toekoms rooskleurig.  Al sien jy nie onmiddellike verandering in jou omstandighede nie, kan jy daaraan vashou dat God besig is met wonderbaarlike planne vir jou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...