Thursday 16 June 2016

Onmoontlik!

2 Korintiërs 9 : 8  En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Toe die Israeliete in die woestyn was, het God hul manna uit die hemel gevoer.  Dit was Goddelike voorsiening, en tog het hul moeg geword om dieselfde kos elke dag te eet.  Dalk kan jy daarmee vereenselwig, want niemand wil dag in en dag uit brood eet nie.  Hulle het vir Moses gesê:  “Moses, ons wil ‘n slag vleis eet.” Natuurlik het hul terugverlang na die vleispotte van Egipte en vergeet hoe swaar hul lewe as slawe was.

Soos jy jou kan voorstel, het Moses bekommerd geraak.  Waar sou hy immers vleis kry? Hulle was in die woestyn en daar was niks anders as sand nie.  Daar was nie ‘n winkel in sig of ‘n vliegtuig wat noodvoorraad kan afgooi nie.  En nou wil twee miljoen plus mense vleis hê.  God het egter maniere om te voorsien waarvan ons nooit kan droom nie.  Hy het bloot die wind van rigting laat verander en daar vlieg ‘n hele swerm kwartels die kamp in.  Die Israeliete het nie eens nodig gehad om op te staan en te gaan jag nie.  Dit klink nou na toeval, maar dan moet jy ook verstaan dat kwartels nie normaalweg ver van waterbronne af beweeg nie.  Dit was net God wat hul daar in die woestyn kon kry. 

Ek reken wat ek vir jou probeer sê is dat God wonderwerke kan verrig.  Hoe meer onmoontlik jou situasie, hoe groter die wonderwerk. Kwartels in die woestyn!!!  Brood uit die heme!!! ‘n Wolk om jou teen die son te beskerm!!!  Jy het nog niks gesien nie.


Wat het jy vandag nodig?  Wat wil jy meer as ooit sien gebeur?  God is in staat om ENIGE IETS te maak werk.  Jy sal nooit vir God in ‘n posisie kry waar Hy vir jou sê:  “Nee, nou verwag jy darem ‘n bietjie te veel nie.”  Gee God’n kans om jou te verstom.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...