Sunday 3 July 2016

As God se stem weerklink

Joël 2 : 11 Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit. Sy leër is ontsaglik groot, dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk. Die dag van die Here is 'n groot dag

God leer ons om sy stem te hoor bietjie vir bietjie.  Dit kan gebeur wanneer jy iets wil koop en skielik net voel dis nie die regte tyd of item nie. Of dit kan by die kantoor wees waar jy die gevoel kry om liewer net nie op iemand se opmerking te reageer nie.

Hierdie ‘gevoelens’ is belangrik, want dit is God wat ons deur die Gees lei.  Moenie hierdie indrukkeof gevoelens ignoreer nie. 

Vroeër vandeesweek, is ek vroeër as gewoonlik gereed.  My man wil opstaan, maar ek sê hy kan maar nog ‘n minuut lê.  ‘n Minuut of wat later sê ek hy kan maar net sowel opstaan sodat ons kan ry.  Hy gaan laai my soggens by die busstop af.  Op pad na die eerste robot, hoor ons ‘n slag, maar ons sien niks. Ons weet daar was ‘n motor kort voor ons.  Alhoewel alles binne sekondes gebeur, kan ek jou presies vertel wat tydens elke milli-sekonde gebeur het.  Na die slag, vra ons amper gelyk:  “Wat was dit?”

Dan sien ons twee goed in verskillende rigtings trek.  Ons registreer daar is ‘n voertuig van ‘n sekerheids maatskappy met ligte aan die oorkant wat noodligte aanskakel en nader beweeg aan die twee goed.  Byna gelyk registreer ons:  “Dit was ‘n mens op ‘n fiets.”  “Oh, no!” my man se twee woorde is met skok en algehele verslaentheid gevul.  Met die dat die sekerheids voertuig die fietsryer se liggaam met sy voertuig probeer verskans en ek betyds by die busstop moet wees, besluit ons om om die toneel te ry.  Uit die hoek van my oog, sien ek hoe die man se kop stadig lig.  “Hy leef,” dink ek.  Ek begin woordeloos vir hom bid, maar ook vir die motoris.  Albei is slagoffers.

Die voertuig wat hom getref het, het onmiddellik remme aangeslaan en omgedraai.  Die hele voorruit is ‘n spinnerak soos die fietsryer dit getref het.  Ek speel alles in my kop af.  Die lig was groen vir ons en die motor voor ons.  Sesuur in die oggend is dit nog stikdonker, met slegs straatligte om die omgewing te verlig. Daar is min tot geen verkeer, so die fietsryer, wat ‘n glimbaadjie dra, moes gedink het dit is veilig om oor die robot te ry wat vir hom rooi sou gewees het.  Ek bid steeds. My man groet en ry terug huis toe om ‘n laaste bietjie slaap in te kry alvorens hy opstaan om te gaan werk.

Ek glo vas dat dit ons sou gewees het wat daardie fietsryer sou getref het as dit nie was dat ons nie onmiddellik gery het toe ek klaar was nie.  Soms weet ons nie eens dat God besig is om ons te beskerm nie, maar Hy is.  Vir die fietsryer moes dit ‘n verskrikking gewees het. My man sê dat die man darem op die sypaadjie gesit het toe hy op pad terug weer verby die toneel ry.  Toe hy later werk toe ry, was ‘n noodvoertuig besig om die motor weg te sleep.  Vir die motoris wag daar ook ‘n nagmerrie wat wissel van versekering, sonder motor wees, laat vir werk tot dalk ‘n hofsaak.

Vir my en my man is dit ‘n teken van God se algehele beskerming en die besef dat dit net genade was.  Dankie Here dat U, U stem laat weerklink het in ons ore, maar bowenal dankie vir U hand van beskerming.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...