Thursday 2 February 2017

Kinders

Eksodus 20 : 12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
‘n Joernalis skryf ‘n artikel in Die Burger, iewers in Januarie, oor die leë nes sindroom.  Dit is ‘n heel gepaste tyd om die artikel te plaas, want baie ouers se kinders verlaat die huis om in ‘n koshuis te bly terwyl hul studeer.
Een sinnetjie in die artikel bly egter by my vassteek:  “Jou lewe mag dalk om jou kinders gedraai het, maar hul lewe draai nie noodwendig om joune nie.”
In die meeste gevalle… van die oomblik dat daardie kind gebore word, vervaag die ouers se eie behoeftes en drome en word daar alles moontlik gedoen om vir hierdie kindjie alles te gee wat hul nooit gehad het nie.  Hul koop en gee en maak voorsiening… alles om vir die kind ‘n droom toekoms te verseker.  Meeste ouers sal hulself tekort doen, net sodat hul in hul kinders se behoeftes kan voorsien.  Daar word vakansie geneem wanneer die kind skoolvakansie het.  Daar word uitstappies beplan waar die kinders deel in alles.  Elke besluit sluit word geneem met die kind(ers) in ag genome… ‘n groter huis sodat elke kind sy eie kamer kan hê… ‘n swembadvir hul plesier…  Jy bring ure deur langs die sportveld… jy betaal en betaal en gee en gee, maar jy kla nie een oomblik nie.  Jou kind is jou alles. 
Dan kom die dag dat hul die nes verlaat en jy hoor niks.  Skielik het hul, hul eie lewe en is jy nie die middelpunt van hul bestaan nie.  Die huis, wat ewe skielik te groot is, bly skoon en die stilte is oorverdowend. Die swembad bly vuil al gebruik niemand dit nie en jy wonder skielik hoekom daar soveel ‘goed’ om jou is.   Jy weet nie wat om met jou tyd te doen nie en jy het eintlik nie ‘n lewe sonder hulle nie.  Jy moet hard dink om te onthou waarvan jy hou en wat jy graag met al die tyd tot jou beskikking wil doen.  Nie dat jy enige iets wil doen nie… jy wil net jou kind weer by jou hê… of darem net sy/haar stem hoor.
Iemand het eendag gesê die mees ondankbare wese onder die son is ‘n kind.  Kinders word groot en dan het hul weer kinders en so gaan die bose kringloop voort.  As ouers moet ons nie so afhanklik van ons kinders word dat ons nie sonder hul kan funksioneer nie.  Liefde en 'n huis met 'n oop deur moet altyd daar wees, maar sorg dat jy ook jou eie lewe het.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...