Sunday 6 August 2017

Al maak dit nie sin nie

1 Konings 17 : 9 &12  “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg. ”Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

Verlede week lees ek in die koerant van ‘n dame wat by Pep stores tydelik as kassier gewerk het.  ‘n Vrou kom koop kinderklere en sy knoop ‘n geselsie aan.  Sy hoor dat die klere vir mishandelde kinders is en haar hart vermurwe.  Sy luister na die stemmetjie wat haar oortuig om haar laaste paar rand vir hierdie vrou te gee:  “Ek wil ook bydra.  Dit is al wat ek het, maar dalk help dit.”  Natuurlik wou die vrou dit nie neem nie, maar die kassier het aangedring.

Hierdie kassier sou nooit weet hoe daardie laaste R9 van haar deur God vermeerder sou word nie.  Die vrou het dit vir haar seun vertel, wat dit op sosiale media versprei het en ‘n veldbrand is aangesteek.  Mense het na die winkel gestroom om hierdie kassier te ontmoet en haar te prys vir haar onbaatsugtige bydrae.  Iemand het haar en haar seun uitgeneem die Sondag vir ‘n vyfgang maaltyd.  En Pep Stores het haar permanent aangestel vanaf 1 Augustus.

Elia moes darem gewonder het oor God wat hom stuur met die belofte dat ‘n weduwee na hom sou omsien.  Hoekom stuur God hom nie na ‘n ryk man wat genoeg opgegaar het nie?  Jy sien, daar was boonop hongersnood in die land.  Nie net stuur God hom na ‘n weduwee nie, maar hy moet ook hoor dat sy nog net een maaltyd oor het, wat sy beplan het om vir haar en haar seun voor te berei.  Hoe moes Elia nie voel nie… om hierdie laaste kos uit haar en haar kind se monde te moet neem.

As dit nie was dat Elia God ten volle vertrou het, al maak dit nie sin nie, sou hy verseker nie na God se stem geluister het nie.  Teen hierdie tyd het Elia genoeg van God en die manier waarop Hy te werk gaan gesien om nie vrae te vra nie, maar net gehoorsaam te wees.

Die weduwee het nie geweet wie Elia was nie, maar net soos die kassier het sy God se stem gehoorsaam, al het dit nie sin gemaak nie.  Beide het hul laaste gegee en beide is onuitspreeklik geseen. 

Here, ook ek vertrou U vandag, al maak dit nie sin nie.  Maak my gehoorsaam en laat my ook deel in U wonderwerkende krag.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...