Thursday 31 August 2017

God sal dit nie toelaat nie!

Jy’t hard gewerk om sukses te behaal, maar nou het jy bitter min vriende.  Dis gewoonlik bitter eensaam aan die toppunt van die suksesleer.  Hoe beter dit met jou gaan, hoe meer suksesvol jy is… hoe meer teenkanting kry jy.  Vandag wil ek jou ‘n heel ander perspektief gee te midde van jou stryd.

Moses het nie aangebied om die volk uit Egipte te lei nie.  Om die waarheid te sê hy was uiters onwillig.  Tog het hy die rol op die ou end omarm.  In Numeri 12 : 3 lees ons Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde. Ten spyte daarvan het nie almal gehou van als wat hy gedoen het nie.  Mirjam en Aaron was ongelukkig oor die uitlandse vrou met wie hy getrou het.  Vers 2 lees ons Die Here het dit gehoor en vers 9 Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en onmiddellik het Mirjam melaats geword.

Hieruit leer ons God laat nie toe dat iemand teen sy kinders kwaadspreek nie. God hoor wat mense sê… hy weet van hul afguns, hoe hul jou afbreek, hoe hul ongelukkig is met reëls wat jy toepas, met disipline wat jy moet handhaaf… En Hy hou nie van wat Hy hoor of sien nie.

Suksesvolle mense is nie baie gewild nie, maar as dit is waar God jou wil hê, moenie toelaat dat ander jou ontmoedig nie. Jy werk immers nie vir ‘n baas nie, jy werk vir God.  Jou werk is nie om mense te verander nie… sommige mense kruis jou pad om jou te toets… juis om die wêreld vir jou moeilik te maak.  Judas was deel van Jesus se binnekring, tog het hy Hom verraai.  Saul het nie van Dawid gehou nie.  Hier’s die ding.  As Saul van Dawid gehou het, sou Dawid nooit koning geword het nie.  Dit was dalk nie aangenaam vir Dawid nie, maar op die ou end het dit in Dawid se guns gewerk.

So wanneer mense jou aftrek, is hul eintlik besig om jou teen die leertjie op te stoot, want God hef diegene op wat Hom getrou dien,soos hy vir Dawid opgelig het, al probeer ander hul afbreek.

Mag jou Lentedag vol vreugde wees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...