Thursday 21 September 2017

Kies lewe

Hoekom ly ons?  Hoekom gaan dit goed met slegte mense?  Hoekom het ek al my aftreegeld verloor?  Hoekom is my kind dood?  Hoekom woed ‘n orkaan nie oor die see uit nie?… Hoekom tref dit die land en vernietig alles wat in sy pad kom?  

Ek weet nie… Is jy verbaas?  Weet jy, dit is die antwoord wat ons behoort te gee.  Ons wil so graag slim lyk en al die antwoorde hê, maar partykeer moet ons slim wees en erken dat ons nie weet nie.  Net God weet.  Ons wil so graag weet… ons soek antwoorde… ons soek logika te midde van onlogiese gebeure.  So graag as wat jy ‘n antwoord wil hê, moet ek ongelukkig vir jou sê dat God nie op logiese maniere werk nie.

Dalk is dit tyd om vrede daarmee te maak.  Ons hoef nie alles te weet of verstaan nie.  As God alles reggeruk het die oomblik dat dit gebeur, of niks negatief ons getref het nie, sou ons nie nodig gehad het om God ooit te vertrou nie. 

Deuteronomium 30 : 19  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe

Wat doen ons, ons volg eerder ons eie koppe.  Ons maak baie keer slegte besluite (kies die dood) en dan wil ons God blameer wanneer dinge verkeerdloop.  Galasiërs 6 : 8  Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

Genadiglik hang God se liefde vir ons nie af van ons optrede nie.  Hoor jy my duidelik vandag?  Jesus het juis vir die sondaar gesterf.  Daarom kan ons met sekerheid sê dat God ons almal ewe liefhet.  Net omdat jou kind nie doen wat reg is, beteken nie vir een oomblik dat jy van daardie oomblik af die kind nie meer liefhet nie. 

Partykeer moet ons na God gaan en vra, Here het ek dalk iets gedoen om hierdie ellende oor my te haal? Dalk was jy ongeduldig met iemand… Dalk is daar iemand wat jy moet vergewe… dalk het jy iets gedoen wat iemand seergemaak het. Jy weet, ons is almal verskillend en soms kan jy een ding bedoel en iemand ervaar dit op heeltemal ‘n ander manier. 

Tog is daar steeds hoop.  God kan enige situasie waardeur jy seergemaak is neem en dit omkeer in iets positief.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...