Tuesday 19 September 2017

Twee perde

Markus 3 : 25  en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.

Ons is baie lief vir ons eggenoot en ons kinders, maar daar is tye dat ons nie baie mal oor hul as mens is nie.  Iemand het vir Billy Graham gevra of hy al ooit aan egskeiding gedink het.  Sy antwoord:  “Egskeiding, nee, maar moord ja.”  Dis tong in die kies.

Al is ons hoe lief vir ons gesin, is dit so dat ons nie altyd oor die weg kom nie.  In party gesinne woed daar voortdurend ‘n klein oorloggie… ‘n woordestryd.  Iemand sê of doen iets en daar gaan ons alweer.  By die werk of tussen vriende moet ons nog ordentlik wees, maar om die een of ander rede dink party van ons dat die mense met wie ons ‘n huis deel, nie op dieselfde respek aangewese is nie. 

Aan die anderkant, weet ons ook van die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.  Jy weet hoe ‘n klein dingetjie uit verband geruk kan word. In jou kop is ‘n gesprek wat alles uit verband ruk.  Sommer gou is daardie molshoop Mount Everest.  Juis daarom, onthou altyd dat dit makliker is om die vrede te bewaar as om vrede te maak. Elke keer wat daar onvrede is, vorm nog ‘n krakie in jou gesinstruktuur.

Dalk reken jy dat jy jou nie so sal vererg of ontstel as ‘hulle’ jou nie verkeerd opvryf nie.  Wel, jammer om van jou te verskil, maar dit gaan nie oor hulle nie.  Dit gaan oor jou.  Besef jy dat wanneer twee mense op mekaar skree, nie een van jul luister na wat die ander persoon te sê het nie.  Dit gaan dan net oor jou en jou opinie. Hier is ‘n “reality check”…  Jou mening is nie die enigste een nie en jy hoef nie altyd reg te wees nie.  Om die waarheid te sê, jy kan reg wees en die ander persoon se gevoelens seermaak, jy kan reg wees omdat jy daarvan oortuig is, maar eintlik ver verkeerd is,  jy kan reg wees en vanaand op die sitkamer bank slaap. 

Vrede in jou huis is belangriker as om reg te wees.  Wil jy vrede en harmonie hê?  Laat dan van vandag af God toe om dit op Sy manier te doen.  Jy mag dalk nie hou van wat Hy van jou verwag nie.  Hy gaan van jou verwag om om verskoning te vra, al was jy nie verkeerd nie.  Hy gaan van jou verwag om jou stilstuipe te laat vaar.  Hy gaan van jou verwag om te vergeet van jou dreigemente van egskeiding…

Wanneer jy in harmonie met jou gesin leef, laat God ‘n geestelike salwing oor jul daal. My dierbare, die vyand lê op die loer vir die geringste kans om onmin in jou huis te bring.  Die oomblik dat hy dit regkry, het hy die oorlog halfpad gewen, want dan begin ons teen mekaar draai en baklei sommer namens hom.  En daar sit hy terug en kyk na die slagveld van gebroke lewens.

Dit is tyd dat ons geestelike volwassenheid bereik.  Wanneer jy volwasse is, weet jy die eintlike probleem is jou selftrots… jou ego, nie soseer of jy reg of verkeerd is nie.  Dan sal jy ook weet dat dit nodig is om jou trots in jou sak te steek.  Vra eerste verskoning.  Raak eerste en met liefde aan die ander. 

‘n Eenvoudige voorbeeld is om nie dikmond rond te loop, nie in ‘n ander kamer te gaan slaap, om aan te hou om vir jou gesin te sorg, al is jy nie heeltemal so opgewonde oor hul nie. Jy hou nie op om ontbyt te maak of toebroodjies in te sit nie.  Jy doen dit steeds, anders is dit nie ‘n liefdestaak nie… is jy nie volwasse nie.  Onthou jy nog Korintiërs 13?  Die liefde vergewe alles, verdra alles…

Verandering begin by jou, nie by die ander persoon nie.  Ons wil so dikwels die ander persoon verander.  As hy of sy net…

Een ding wat ons as ouers uit die oog verloor, is dat ons die voorbeeld is wat ons kinders gaan volg.  Is die manier wat jy teenoor jou eggenoot optree navolgenswaardig?  Is die manier waarop jy jou kinders behandel besig om hul selfvertroue op te bou?

God sal jou beloon op maniere wat jy jouself nooit kan voorstel, as jy die eerste tree neem om vrede te maak.  Dit is immers wat dit beteken om aan ander te doen, soos wat jy wil hê hul aan jou moet doen.

Styg uit bo jou omstandighede en wees die verandering wat jy graag wil sien. As twee perde indieselfde rigting trek, beweeg die kar vorentoe. Jy weet wat gebeur as hul in verskillende rigtings trek.

Spreuke 3 : 20  Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy; enige dwaas kan 'n rusie begin.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...