Monday 2 October 2017

Jou seisoen van sukses het aangebreek

Eksodus 3 : 7 – 8  Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.  (8)  Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning

Partykeer doen ons alles wat reg is… ons bid, doen Bybelstudie, werk aan ons verhouding met God, gee om vir ander, gee ons tiende, maar niks wil eenvoudig regloop nie.  Om die waarheid te sê jy het so pas nog ‘n terugslag beleef… jou bakkie het alweer gebreek, jy het weereens nie die kontrak gekry nie... iemand het jou alweer ingeloop.  Die sprinkane is besig om alles rondom jou te vernietig.

Ons kyk na ander wat hoegenaamd nie ‘n verhouding met God het nie en sien hoe goed dit met hulle gaan; hoe voortuitstrewend hul is.  Ons sien hul blink motor(s) en huis teen die bult… hul pragtige kinders, perfekte huwelik… geld in oorvloed… alles verloop klopdisselboom terwyl ons bly voortploeter.  Hoekom, Here?

Moenie jou blindstaar teen die uiterlike nie.  Jy weet nie regtig wat in ander huise aangaan nie.  Dit behoort jou ook nie te skeel nie.  Hou aan om te doen wat jy doen.

God hou alles dop.  Hy sal sekermaak dat jy kry wat jou toekom, net soos wat Hy met die Israeliete gedoen het.  Daardie sprinkane wat als vernietig het, God gaan dubbel dit aan jou teruggee.  Alles wat die vyand gesteel het, sal God herstel… jou drome, jou vrede, jou besigheid, jou alles.

Skud die verlede af.  Die seisoen van guns en glorie het vir jou aangebreek. 

Neem nou maar vir Trevor Noah.  Daar mag diegene wees wat reken dat hy darem baie gelukkig is om Jon Stewart op te volg as gasheer van die Daily Show.  Ek glo dit is omdat God die onreg van die verlede herstel en hom meer gee as wat hy ooit tevore gehad het.  Trevor is in Soweto gebore.  Sy ma was ‘n Xhosa en sy pa ‘n wit Switse Duitser.  As gevolg van apartheid, was dit onwettig vir sy ouers om te trou of saam te woon.  Dit waarvan hy as kind beroof is, is in dubbele maat aan hom teruggegee.

God slaap nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...