Sunday 19 August 2018

Groen velde en kabbelende stroompies


Psalm 23 : 1 – 3  n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.  Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Sielerus is iets waarna meeste mense smag, maar dit is min beskore.  Ons is onrustig, bekommerd, word herinner aan pyn, is bang, voel of ons kragte ons verlaat het…

Waar sal daar vir ons rus wees?  Hoe ‘cope’ jy in ‘n wêreld wat jy partykeer dink totaal en al mal geword het?

Die mens bestaan uit drie dele:  Gees, siel en liggaam.  Jou gees is die deel wat vir ewig kan voortleef.  Dan het jy ook ‘n siel en ‘n aardse liggaam.

Jou siel is die kwesbaarste.  Dit is waar die vyand sy aanslae op mik.  Dit is waar daar gebrokenheid mag wees.  Dis waar pyn en teleurstelling gewortel is.  Dis waar rusverstoring so maklik plaasvind.  En dit is juis hier waar God werk.  Hy het die vermoë om jou sielerus te gee.  Hy laat jou rus in groen weivelde.  Hy bring jou by waters waar daar vrede is.  Hy vul jou met nuwe krag. 

En dan kan God genesing bring in daardie gebroke plekke. Hy kan dit weer heelmaak. Hy kan dit herstel en Hy kan dit beter maak as voorheen.

Daardie prentjie van groen gras en ‘n kabbelende waterstroompie… dis jou beskore. 
Eers as ons gekalmeer is en Sy teenwoordigheid ervaar, kan ons weet dat die restorasie proses kan begin. 

Laat toe dat God jou tot rus bring.  Hou op jaag… Hou op strewe na meer en beter… Hou op ly… Ware sielerus is net by God te vinde.



No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...