Tuesday 21 August 2018

Sodat almal kan sien


Matteus 23 : 5 – 7  Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.  Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.
Markus 12 : 38 – 40 Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word,  wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê.  Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Jy kry mense wat vir die gehoor speel.  Hulle wil raakgesien word.  Daarom sal hul voor in die kerk sit, hoogdrawend bid, voorgee dat hul vir ander omgee… ens ens ens.  

Ken jy sulke mense?  Dalk is jy so iemand. 

Jesus het nie veel ooghare gehad vir mense wat wou hê ander moes sien hoe belangrik hul is of wat hul vir ander doen nie.

Voorgee mag sekere mense op aarde beindruk.  Dit mag mense selfs na jou toe aantrek.  Ons hoor so dikwels hoe mense “name drop”.  Die feit dat jy iemand ken wat volgens mense nogal belangrik is, maak jou geensins belangrik nie.  En hoe belangrik sal daardie persoon in God se oë wees?

Selfs die Fariseërs wat op die hoeke van strate bid, was nie aanvaarbaar vir Jesus nie.  Ons moet in ons binnekamer gaan bid.  Daar is mense wat pragtig kan bid, met hoë woorde en vele onderwerpe dek en dan dink jy hulle moet ‘n groot Christen wees, want jy kan nie so bid nie.  Nee, ‘n opregte gebed, al is dit die eenvoudigste gebed, beteken veel meer as hoogdrawende, vooraf geoefende leë woorde. 

God is op jou hart ingestel.  Wat in jou hart aangaan, kan jy vir mense wegsteek, maar nie vir God nie. 

Laat ons waaksaam wees en nie eie belang soek nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...