Wednesday 28 November 2018

Waar is U?


Job 23 : 1 – 9  Toe het Job weer gepraat:  “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie.  As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel.  Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.  Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie.

As daar nou een mens was wat rede gehad het om van God verlate te voel, is dit Job.  Job is tot die uiterste beproef… hy het alles verloor en ek glo Job sou eerder wou doodgaan, maar dit was waar satan se mag gestop het, want God het gesê hy kan alles doen, maar nie raak aan Job nie.  Job moes deur hierdie hel leef.  Hy kon nie van sy hartseer en beproewinge wegkom nie.

Dalk voel jy ook vandag so.  Jy wil net op ‘n hopie gaan sit en doodgaan, maar selfs daar is daar nie vir jou uitkoms nie.  Net soos Job voel jy ook nie God se teenwoordigheid nie.  Jy bid en bid, maar niks gebeur nie.  Jy smeek, soebat, onderhandel, dreig… doodse stilte.  Jou omstandighede versleg by die dag en jy wonder waar God is. 

Wanneer ons nie God se weë verstaan nie, kan ons ons net beroep op sy karakter.  Hy is God-drie-enig.  Hy het Sy Gees agtergelaat om ons te troos.  Hy is ‘n omgee God.  Sy beloftes bly staan.  Hy ken steeds jou naam.  Die hemel is Sy woning en as jy gered is, is die graf slegs ‘n tydelike tuiste.  Niks is vir Hom onmoontlik nie.  Deur die eeue heen is Sy wonderdade opgeteken en Hy is gister, vandag en môre steeds dieselfde.  Elke toets wat ons deurstaan verander in ‘n getuienis tot eer van Sy naam.  Sy wil is reg, heilig en perfek.  Eendag sal daar geen trane meer wees nie.

Ons weet dat God Job nooit verlaat het nie.  Ek dink God moes op Sy tande kners om nie in te gryp nie.  Uiteindelik het Hy Job opgetel en geseën soos Job seker nooit sou kon dink moontlik is terwyl hy deur hierdie ellendige tyd moes worstel nie.
God sal jou ook nie in die steek laat nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...