Thursday 14 March 2019

God wys die pad


Jesaja 30 : 21  Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”

Die ander wonderbaarlike ding wat gebeur wanneer jy ‘n noue verhouding met God het, is dat Hy jou voetstappe rig.  Dit is asof jy ‘n geestelike intuisie ontwikkel.

Johannes stel dit so mooi:  Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid. (1 Johannes 2 : 20).  Ons moet leer om hierdie salwing te vertrou.  Soms is daar iets binne ons wat ons aanpor om iets te doen, maar ons hou onsself doof vir die stemmetjie.  Dis God wat met jou praat.  Dalk is jy so gewoond om te hoor dat jy nie goed genoeg is nie of dat jy self glo jy kan dit nie doen nie.  Baie keer is dit net onsself wat in ons eie pad staan.  Ons beperk God en ons beperk onsself.  Vertrou die stem en vertrou God.  As Hy die gedagte in jou geplant het, sal Hy dit laat ontkiem en vrug dra.

Ons glo so maklik mense, mense wat nie altyd ons beste belange op die hart dra nie, maar ons twyfel aan God wie volgens Jeremia 29 net goeie planne vir ons het.  Besef vandag dat God aan jou kant is en dat Hy vooruit stap en vir jou ‘n pad maak.  Filippense 2 : 13  want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Dus, as jou geestelike intuisie jou aanpor, en jy’t die saak met God uitgeklaar, beweeg.



No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...