Monday 25 March 2019

Wanneer gaan jy hoor?


Hebreërs 3 : 15  Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

Is jy al gevra om iets vir God te doen, maar jy het geweier?  Jy sien, partykeer herken jy dit as iets wat jy vir God moet doen en ander kere is dit nie so duidelik dat Hy jou nodig het nie.  Wel, eintlik het God niemand nodig nie… Hy kan dinge maak gebeur sonder om ‘n vinger te roer, maar soms wil Hy ons ‘n kans gee.

Miskien het iemand met kaartjies by jou deur kom klop en jy’t hul weggejaag?  Jy sien die bedelaar elke dag by die robot en jy voel jy moet iets gee, maar dan dink jy weer, nee wat hy kan gaan werk, soos ek.  Of die kerk het jou gevra om diaken, suster, ouderling te wees… dalk ‘n selgroep te lei…  Die radiostasie hou alweer ‘n fondsinsameling en jy skakel liewer uit… Iemand skakel jou en vra jou hulp of raad en jy maak verskonings…

Maar dan hoor jy daardie stemmetjie…Dis nie noodwendig ‘n stem wat jy hoor nie, eerder ‘n gevoel, ‘n wete, ‘n ongemaklikheid… iets wat jy nie kan verduidelik nie, maar jy weet dat jy weet.  Dit maak nie altyd sin nie, maar dis asof jy hoor… “Jy moes dit gedoen het.  Draai om, gaan terug…”

Liewe mens, moenie die stem van die Heilige Gees ignoreer of jou hart teen Hom verhard nie.  Luister en reageer. 



No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...