Sunday 17 March 2013

Alles of Niks

1 Korinthiërs 1 – 28  en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.

Al is jy hoe optimisties, kry ons almal tye dat ons voel asof ons ‘n totale mislukking is – dat ons net mooi niks kan regdoen nie.  Dis maklik om te voel dat jy nie goed genoeg is nie wanneer jy om jou kyk en mense met deftige klere sien, of diegene wat in duur motors ry, of dalk diegene wat in gesogte buurte woon. 

Juis daarom is dit absoluut verfrissend om ‘n teksvers soos hierbo te lees en te weet dat God nie belangstel hoe belangrik jy is nie, maar veel eerder wil weet wat ‘n belangrike verskil jy in die wêreld rondom jou gemaak het.  Of jy kreupel is of werkloos;  of jy in ‘n plakkerskamp woon of jouself in ‘n tronksel bevind, is vir Hom irrelevant.  Dis wat binne jou hart aangaan waarin Hy belangstel – wie jy aanbid.  En ons weet Hy’s ‘n jaloerse God wat nie deel nie – dis alles of niks. 

So tel op jou kop en onthou dat jou Hemelse Vader die Koning van die heelal is, wat dan van jou ‘n prins of prinses maak.  Jy is spesiaal en God het die perfekte plan met jou lewe – vertrou Hom net.  Ons almal hoop op ‘n makliker môre, maar dis vandag wat saakmaak.  Sal jy vanaand met trots op jou dag kan terugkyk?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...