Monday 18 March 2013

Seëninge uit Sy hand

Psalm 147 : 8  Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit.
Tydens ‘n onlangss sakereis, reis ek deur die platteland.  Op pad na my bestemming, verwonder ek my aan die skepping.  Langs die pad verander die landskap kort-kort van brak lande tot geil wingerde tot stoppellande.  Soms wei daar spekvet skape en beeste.  Daar’s selfs ‘n paar rye hoenderhokke en die damme is lekker vol water. 

Skielik besef ek iets van God se voorsiening.  Alles wat ek rondom my sien, kom uit Sy hand.  Danksy Sy voorsiening, kruie die trekkers stadig voort met waentjies wat oorloop van vet geswelde druiwe.  Die stoppellande getuig van koring wat geoes is en ek kan my net voorstel hoe vol die silo’s nou is. 

’n Boer weet hoe om op sy knieë te bly, veral deesdae.  As daar nie stakings is nie, dan is daar plaasmoorde, brande en droogtes.  Alhoewel ons weet dat die mens deesdae net mooi alles kan doen, het ons God steeds nodig om reën te bring – lewegewende reën. 

As jy ‘n boer is en ‘n bietjie moedeloos voel as gevolg van omstandighede, wil ek jou bemoedig om vol te hou.  God het iemand soos jy nodig.  Moenie dat wêreldse probleme jou onderkry nie.  En ons wat nie boer nie, kan gerus vir ons boere bid.  Dis harde werk onder moeilike omstandighede, wat dikwels net deur God se genade volgehou kan word.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...