Monday 25 March 2013

God se Insig

Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Herfs is my gunsteling tyd van die jaar in die Kaap.  Ek is gaande oor die windstil dae met temperature wat net reg is;  nie te koud nie en nie te warm nie.  En tog, as ek nie die versengende hitte van ‘n Somersdag ervaar het, of ‘n stormsterk Suid-ooster moes trotseer nie – as ek nie die snerpende koue van ‘n nat Wintersdag ervaar het nie, sou ek nooit hierdie perfekte dae soveel waardeer het nie.

Net so moet ons verstaan dat ons nooit gelukkige tye sou waardeer as ons nie ongelukkigheid beleef het nie.  Ons elkeen het ‘n perfekte balans tussen hartseer en vreugde; tussen swaarkry en geluk – net soos God dit vir ons uitgemeet het.  As jy dink jou swaarkry is onhanteerbaar, gesels gerus met ander rondom jou en jy sal vinnig besef dat jy eerder jou pakkie wil hou as om ander sin op te neem, want ons kry ook ‘n goeie dosis krag om ons swaarkry te hanteer.   Daardie krag pas egter net by jou pakkie. Sou jy iemand anders se pakkie opneem sal daardie krag niks uitrig nie.   

En net soos Lente Winter opvolg, sal vreugde ook in ons lewens kort voor lank bot en gedy.  As ons jaar in en jaar uit somersvrugte sou kry, sou ons lankal daarvoor moeg wees, maar nou kry ons verskillende vrugte in verskillende seisoene en so is daar ook verskeidenheid in ons lewens.

Ons is tot soveel meer in staat as wat ons God krediet voor wil gee.  Mag jy God ervaar tydens die hewigste Winter in jou lewe; net soveel as wat jy Hom ervaar tydens die hoogsomersdae.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...