Tuesday 19 March 2013

Sout van die aarde

Psalm 37 : 4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Jy mag dalk van my verskil, maar ek dink die mense van die platteland is die sout van die aarde.  Hul opregtheid is soos ‘n welkome briesie op ‘n bloedige Somersdag.

Wat maak mense van die platteland so anders?  Hulle groet mekaar en vra met opregte belangstelling na mekaar se welstand uit.  Daar is ook nie die gejaagdheid waaraan ons in die stad gewoond is nie.  Hulle jaag nie agtuur in die aand nog na die supermark om 'n brood te gaan koop nie, want die winkels maak 6h00 op die laaste toe.  Saterdagmiddae is vir tuinwerk, nie die winkelsentrum se eindelose gange nie.   Vir iemand wat byna elke dag die stadsverkeer moet trotseer is drie motors by ‘n stopstraat in die hoofstraat byna abnormaal.  En dan beduie die vriendelike man aan jou regterkant nog vir jou om eerste te ry!

Agter ons hoë mure en tralies voor al wat ‘n deur en venster is, het ons onsself verloor.  Dalk het dit tyd geword om onsself weer te vind.  Ons hoef nie altyd by te bly nie - ontspan!  Ons hoef nie soos vele ander met stroewe gesigte rond te loop nie.  Ons kan uitreik na ander en so ‘n bietjie plattelandse gasvryheid teenoor ons naaste betoon.

Waak vandag jaloers oor die vreugde wat God binne jou geplaas het.  Nog voor jy uit die bed klim, bid sommer gou.  “Here, dankie vir al die vreugde wat ek vandag gaan ervaar en ook vir die vreugde wat ek in ander se lewens gaan bring.  Maak my ‘n gewillige instrument in U hand, Vader.  Ek is gereed.”    

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...