Wednesday 22 May 2013

'n Sagte woord


Efesiërs 6 : 9  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid.

By die werk het ons ‘n dame wat skoonmaak.  Haar naam is Yva en sy is Xhosa-sprekend.  Sy het 2 kinders na wie sy vreeslik verlang, want hulle woon by haar ma in Transkei.  Sy vertel die jongste is maar 2 jaar oud en sy’t haar as baba by haar ma moes agterlaat om in die stad te kom werk.  Paasnaweek wou sy graag huis toe gaan, maar sy’t nie genoeg geld gehad nie, hoor ek onlangs.

Yva is altyd eerste by die werk.  Sy sorg dat alles netjies skoon en op hul plek is.  Teen die tyd dat ons daar kom, het sy al die urn aangesit sodat ons lekker warm water vir koffie het.

Yva is nie net die skoonmaker nie, sy is die klein engel wat seker maak jy het alles wat jy nodig het om jou take te verrig.  Sy’s egter skaam en praat net gebroke Engels.  Groot was haar verbasing toe van ons haar nader om ons Xhosa te leer en nou straal sy as ons ons gebroke Xhosa met haar oefen. Skielik is daar iemand met wie sy kan kommunikeer.

Al lyk en praat Yva nie soos ons nie, is daar veel meer ooreenkomste as verskille wanneer ons mekaar beter leer ken.  Ons het elkeen die behoefte daaraan dat ander ons raaksien as ‘n medemens.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...