Wednesday 19 June 2013

½ Waarheid + ½ Waarheid = Leuen


Psalm 25 : 5  “Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin…”
Daar was ‘n matroos wat reeds drie jaar op dieselfde skip gewerk het. Een aand het dit baie gesellig gegaan met die etery en het die matroos dronk geword. Dit was die eerste keer dat dit ooit met die matroos gebeur het.

Die kaptein het dit in die skeeps dagboek aangeteken:  “Die matroos was dronk vanaand.”
Die matroos het die inskrywing gelees en besef dat die inskrywing sy hele loopbaan in die toekoms sal affekteer. Hy is na die kaptein en vra plegtig om verskoning vir sy swakheid die aand en pleit by die kaptein om by die inskrywing in die dagboek by te voeg, “....maar dit is die eerste keer dat dit gebeur in die drie jaar wat die matroos op die skip werk.” wat die waarheid was.
Die kaptein het geweier om die inskrywing te verander en sê, “Wat ek in die dagboek geskryf het, is die absolute waarheid.”
Die volgende dag was die matroos op wag in die stuur kajuit en dit was sy verantwoordelikheid om die skeeps dagboek in te vul.
Hy skryf toe in die skeeps dagboek, “Die kaptein was sober vanaand.”
Die kaptein lees die inskrywing en vra die matroos om die inskrywing te verander of daarby by te voeg want die inskrywing laat dit voorkom asof die kaptein al die ander aande dronk is.
Die matroos antwoord die kaptein dat dit wat hy geskryf het in die skeeps dagboek is die waarheid.
Beide inskrywings in die skeeps dagboek was waar maar hulle het ‘n verkeerde boodskap oorgedra – ‘n wanvoorstelling van die waarheid.
Daar word gesê dat daar gewoonlik drie waarhede is:  Joune, myne en die werklikheid.  Halwe waarhede, wit leuentjies, wanvoorstellings, verdraaide of verswygde feite kan soveel skade aanrig.  Buitendien moet jy altyd onthou wat jy voorheen vir wie gesê het.  Daarenteen is die waarheid soveel eenvoudiger, want daar is net een weergawe. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...