Sunday 14 July 2013

Alle eer aan God

Genesis 16 : 16 Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

Abram en Sara was kinderloos.  Toe God nie hul gebede verhoor vir 'n eie kindjie nie, maak hulle soos baie van ons hul eie plan.  Abram moes by Hagar slaap en so is Ismael gebore.  As hulle maar gewaghet, want op Sy tyd het hy wel hul gebed verhoor.  Veertien jaar later is Isak gebore as Abraham en Sarah se eie seun, op 'n ouderdom toe dit menslik onmoontlik sou wees.
 
'n Rukkie gelede het ek genoem hoe wonderbaarlik God my gebede verhoor het, maar ek het nie uitgebrei daarop nie.  Na vele navrae, deel ek graag die getuienis met jou. 

Agtien maande gelede het ek my laaste uitsending as omroeper by Radio Tygerberg beleef.  Dit was moeilik om iets waarvoor ek so 'n passie gehad het oornag agter te laat.  Die leemte het al groter geword.  Dit was nie net om 'n omroeper te wees nie, want ek kon by enige ander plaaslike radiostasie gaan aanklop het.  Vir my was dit 'n roeping om die Woord te versprei en die hunkering sou nooit gestil word.  Ek het my hartsbegeerte aan God bekend gemaak, maar dit ook duidelik gemaak dat die geleentheid na my toe moes kom en nie andersom.  Alleenlik dan sou ek seker wees dat dit ook Sy wil is. 
 
Sowat 3 weke gelede beland ‘n epos uit die bloute in my "inbox" met 'n aanbod om omroeper te wees by Radio Disa.  Ek het daai skerm sit en kyk en kyk en kyk…  Hoe op dees aarde…?  Maar dis presies hoe God te werk gaan.   

Vanaand, 15 Julie 2013, begin ek by Radio Disa, 'n Christen Radiostasie!  Weliswaar aanvanklik net via die internet, maar God is hier verantwoordelik, ek het nie ‘n vinger verroer nie.  Ek gaan aanvanklik 3 skofte doen.  Dis baie met 'n voltydse werk, maar ek glo ook ek sal krag van bo kry.  Maandag, Dinsdag en Donderdagaande 18h00 – 20h00.  As jy wil inskakel via internet, die webblad is www.radiodisa.com Jy gaan sommer heelwat 'ou' stemme herken.

Alle eer aan God.

As daar enigiemand is wat op iets hoop of lank vir iets bid, hier is die getuienis dat Hy ‘n God van Wonderwerke is.  Soos wat hy Isak destyds vir 'n ouerpaar gegee het wat al moed opgegee het, so sal hy ook die onmoontlike vir joudoen.

 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...